Agriculture
Landbounuus-podcast: VS wegholveldbrande raak 339 plase─── ELSABÉ RICHARD 13:16 Thu, 29 Oct 2020
Die onlangse wegholveldbrande in die Hertzogville-, Boshof-, en Hoopstad-gebiede in die Vrystaat het sowat 339 plase geraak.
Dit is volgens Jack Armour, bedryfsbestuurder van Vrystaat Landbou (VL), ná 'n vergadering Dinsdag met landbouvereniging-voorsitters van die brand-geteisterde Wes-Vrystaat. Armour sê die vergadering was om ‘n behoefte-bepaling te doen van boere wat deur die veldbrande geraak is. Hy verduidelik dat daar in hierdie stadium nog net bevestiging is van sowat 100 000 hektaar veld wat verwoes is, maar dat die finale oppervlak binnekort bekend gemaak behoort te word. Armour sê dis nog moeilik in hierdie stadium om die totale omvang van die skade wat elke boer gely het, te bepaal. Besoek Vrystaat Landbou se webtuiste vir meer inligting oor hoe om 'n skenking te doen.
Agri SA sê hy neem kennis van die mediumtermyn-begroting wat Woensdag deur die minister van finansies, Tito Mboweni, ter tafel gelê is. Die organisasie sê gegewe die huidige ekonomiese klimaat weens die wêreldwye coronavirus-pandemie, verwelkom Agri SA sommige van die ingrypings wat in die minibegroting ter tafel gelê is, maar meen die geleentheid om maklike doelwitte te behaal, verbeur is. Agri SA sê verder na aanleiding van president Cyril Ramaphosa se toespraak, waar hy beklemtoon het dat die landbousektor een van die belangrikste sektore sou wees om die ekonomie weer aan die gang te kry, is verwag dat die nasionale tesourie meer uitgesproke sou wees in sy steun aan die bedryf. Dit, aangesien die sektor een van die grootste werkgewers in die ekonomie is.
EN
Intussen het Nicol Jansen, president van Agri Noord-Kaap, Woensdag tydens die organisasie se 41ste jaarkongres die landbousektor geluk gewens vir sy bydrae tot die land se onlangse Bruto Binnelandse Produk (BBP). Dit kom nadat die landboubedryf die enigste sektor in Suid-Afrika was wat in die tweede kwartaal vanjaar met 0,3 persentasiepunte in die tweede kwartaal van 2020 'n positiewe bydrae tot die land se algehele BBP gelewer het. Die bedryf het in dié kwartaal 'n indrukwekkende groeikoers van 15% behaal. Jansen sê hy het in die sektor groei, ontwikkeling en die strewe na sukses waargeneem wat ook geheers het met die ontwikkeling en die opbou van Suid-Afrika die afgelope 300 jaar.
OFM-nuus
