Agriculture
Landbounuus-podcast: Afname in Vaaldam-watervlak─── ELSABÉ RICHARD 13:17 Fri, 30 Oct 2020

Die Vaaldam se watervlak het in die laaste week van Oktober ‘n afname getoon in ooreenstemming met verlede jaar dieselfde tyd.
Dit, te midde van min reënval en warm weerstoestande. Die Departement van Water en Sanitasie se woordvoerder, Sputnik Ratau, sê in ‘n verklaring die Vaaldam staan tans op 29,1%, teenoor 30,2% verlede week. Daarteenoor was dit gedurende dieselfde week verlede jaar net onder 50% op 48,4%. Net so het die vlakke van die Bloemhofdam afgeneem, aangesien dit skerp gedaal het van verlede week se 86,2% tot 82%. Die Sterkfonteindam in die Vrystaat het die tweede week agtereenvolgens op 94,3% gebly. In dieselfde week verlede jaar was dié damvlakke laer, maar steeds sterk op 91,5%. Ratau waarsku dat oormatige waterverbruik ‘n negatiewe invloed op die waterstelsel kan hê, en erken dat watergebruikers die verantwoordelikheid het om die stelsel in 'n gesonde toestand te hou. Gevolglik moet gemeenskappe met munisipaliteite saamwerk en onder meer lekkende krane aanmeld.
Terwyl die land uitsien na die grootste koringoes in 18 jaar, dui ’n opname oor produsente se voornemens om somergewasse aan te plant ook op boere se geesdrif, aangesien groter aanplantings van alle gewasse, buiten sonneblom, beplan word. Landbouweekblad berig volgens die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) se derde produksieskatting vir wintergewasse, word ’n koringoes van meer as 2,1 miljoen ton nou verwag. Dit is 5,48% meer as die vorige skatting en die verwagte opbrengs is 4,19 ton per hektaar. Dit is die grootste verwagte oes sedert die 2,4 miljoen ton van die 2002-seisoen. Die Wes-Kaap sal na verwagting 51% daarvan produseer, die Vrystaat 20% en die Noord-Kaap 13%.
EN
Nampo Alfa, in samewerking met Agri Gauteng en SAMIC, bied Vrydag 30 Oktober 'n interessante webinaar oor varkproduksie aan. Die organiseerder van Nampo Alfa, Albert Loubser, sê die webinaar volg ná vandeesweek se Envarto-varkkarkaskompetisie waarvoor sowat 270 inskrywings ontvang is. Hy sê GWK gaan ook tydens die webinaar 'n veiling aanbied waarop vandeesweek se wenkarkasse opgeveil sal word. Die webinaar word om 14:00 op DigiTV uitgesaai.
OFM-nuus