Agriculture
Landbounuus-podcast: Pa dood, seun beseer in VS plaasaanval─── ELSABÉ RICHARD 10:49 Fri, 06 Nov 2020
'n 56-jarige boer is dood aangetref en sy 26-jarige seun is beseer ná 'n beweerde plaasaanval op die Swartpan-plaas in die Hennenman-streek in die Vrystaat.
Polisiewoordvoerder, Motantsi Makhele, sê 'n saak van moord en huisroof word ondersoek nadat 'n huishulp omstreeks 05:00 Vrydagoggend dié gru-ontdekking gemaak het. Hy sê die huishulp is deur die oorledene se vrou ontbied nadat sy nie haar man en seun in die hande kon kry nie. Die polisie en boere in die omgewing is in kennis gestel en die boer is op die toneel dood verklaar. Sy seun is na 'n hospitaal vervoer vir behandeling. Makhele voeg by daar word beweer dat die boer in die huis aangeval en in die kop geskiet is, terwyl sy seun met sy aankoms by die huis oorval en gesteek is.
EN
Alhoewel die Rand teenoor die vernaamste geldeenhede versterk het en daar ‘n hernude vlaag van Covid-19 uitbrake in Europa is, het die wolmark bo verwagting goed presteer op vandeesweek se veiling. Die veiling het met 8 163 bale afgeskop, nadat 182 bale onttrek is. Luidens Cape Wools SA se wolmarkverslag is 'n algehele verkoopspersentasie van 96,2% op die wolveiling behaal. Die mark het goed presteer en met 7,9% toegeneem om teen R157,17 per kg te sluit. Volgens die wolmarkverslag is die styging behaal ten spyte van die Rand wat 1,1% sterker teen die Amerikaanse Dollar verhandel het, met 'n styging van 9,13% in Amerikaanse Dollar-terme. Heinrich Victor, bestuurder van spesiale dienste by OVK, sê wat wel 'n invloed op die mark in die kort tot medium termyn kan hê, is die Amerikaanse verkiesingsuitlae. Hy sê wol wat vandeesweek in die makelaars se pakhuise ontvang is, is 0.2%% laer in vergelyking met die ooreenstemmende tyd van die vorige seisoen. Luidens Victor het volhoubaar gesertifiseerde, goeie kwaliteit Merinowol weereens goeie aandag geniet op die veiling en tot gesonde kompetisie tussen kopers gelei.
OFM-nuus
