Agriculture
Landbounuus-podcast: LUR veroordeel plaasmoorde─── ELSABÉ RICHARD 17:43 Mon, 09 Nov 2020
Die LUR vir Landbou, William Bulwane, het die sinnelose moorde van drie Vrystaatse boere die afgelope weke in afsonderlike voorvalle veroordeel.
Bulwane meen dat plaasmoorde voedselsekerheid bedreig en diegene wat van dieselfde boere afhanklik is vir werk, kwesbaar laat. Bulwane het alle belanghebbendes versoek om hande te vat om teen hierdie misdade te veg. Dit kom nadat 'n 56-jarige boer, Pieter Hills, onlangs dood op sy plaas in Swartpan aangetref is, terwyl sy 26-jarige seun, Eddie, met beserings ontsnap het nadat hy deur die verdagtes in sy bors gesteek is. In 'n ander voorval het 'n 37-jarige boer in Odendaalsrus, Tebogo Machakela, wat in Augustus vanjaar wreed deur 'n groep aanvallers op sy plaas aangeval en geskiet is, verlede week aan sy beserings beswyk. In die ander voorval is 'n 60-jarige boer, Dave Wessels van Viljoenskroon, verlede maand dood in sy slaapkamer aangetref ná 'n rooftog. Bulwane betuig sy innige meegevoel met die families van die oorledenes.
Daarmee saam het die onlangse moord op 'n bekende Vrystaatse boer op die plaas Swartpan in die Hennenman-streek skokgolwe regoor die land gestuur. Dit kom nadat 56-jarige Pieter Hills vermoedelik op 5 November omstreeks 18:30 in sy huis deur 'n groep aanvallers oorrompel is. Luidens Vrystaat Landbou (VL) het sy seun Eddie ná sy tuiskoms van die gymnasium af, die huis betree en is hy met 'n mes in sy bors gesteek. Hills is na bewering in die kop geskiet en is deur owerhede op die toneel dood verklaar. Jakkals le Roux, voorsitter van VL se Landelike Veiligheidskomitee, veroordeel ten sterkste enige moord of aanval op ‘n boer, hetsy dit ‘n kommersiele, opkomende of bestaansboer is, of sy familie of enige ander persoon van ‘n boerdery of die plaaslike gemeenskap. Le Roux sê die organisasie spreek sy simpatie uit teenoor die Hills-familie vir die groot verlies wat hulle gelei het en wens hul seun Eddie 'n spoedige herstel toe.
EN
Meer as 21 000 werksgeleenthede is weens die Covid-19-pandemie in die wynbedryf verlore terwyl die sektor 'n verlies van R7,5 miljard aangeteken het. Dit is volgens Wines of South Africa (WOSA) wat sê dié verlies is weens die streng inperkingsregulasies en die verbod op die verkoop van alkohol. Ter wille van hul eie oorlewing en ter wille van ekonomiese herstel, moes wynprodusente nuwe maniere oorweeg, bedink en aanpas by die nuwe manier van sake doen om sodoende die uitdagings wat deur die pandemie teweeggebring is, te probeer omseil. Lucas van Niekerk, verkoopsbestuurder by Oranjerivier Wynkelders, sê hulle het miljoene rande verloor wat daartoe gelei het dat van werknemers ook hul poste kwyt is. Hy sê die maatskappy moes ook nege pakhuise sluit. Met die nasionale alkoholbeperkings kon hulle vir drie maande nie wyn verkoop nie, wat tot 'n groot geldelike verlies vir die kelders gelei het.
OFM-nuus
