Agriculture
Landbounuus-podcast: Vleispryse styg steeds─── ELSABÉ RICHARD 14:34 Wed, 25 Nov 2020
Verbruikers sal hierdie feestyd dalk hul hande diep in hulle sakke moet steek, aangesien stygende vleispryse tot duur braaie lei.
Dit is volgens Paul Makube, senior landbou-ekonoom van FNB. Makube sê die seisoenale vraag na vleis in Suid-Afrika is steeds stewig, met die aantal veeslagtings wat meer as dié van 2019 was. Hy sê indien slagtings teen hierdie koers voortduur, sal Statistieke Suid-Afrika se verbruikersprysinflasie vir vleis in hul komende statistiese opdatering taai bly in vergelyking met 2019. Hy voeg by dat 'n hoër slagtempo gewoonlik laer pryse beteken as gevolg van die beskikbaarheid. Makhube sê wat hoendervleispryse betref, is die situasie dat die produkkategorieë 'n gemengde neiging toon met afwaartse druk vir vars, heel hoenders.
Die groeiende vraag na boomneute onder verbruikers het ook gelei na ’n groter bewustheid van besmetting met bakterieë, virusse of organismes wat aan mense oorgedra kan word. Amerika se Food and Drug Administration, oftewel die FDA, het dit onlangs verpligtend gemaak dat alle amandels wat Amerika invoer, gepasteuriseerd moet wees. Volgens Landbouweekblad, met die verwagting dat sulke maatreëls ook op ander neute en na ander uitvoerbestemmings van krag sal word, het die Green Farms Nut Co (GFNC), een van Suid-Afrika se grootste makadamiaverwerkers en -uitvoerders, in tegnologie van die Switserse maatskappy Napasol belê om makadamianeute te pasteuriseer. Allen Duncan, uitvoerende hoof van Green Farms Nut Co, glo dié enorme belegging sal op die lang termyn dividende vir produsente oplewer deur marktoegang te verseker wanneer lande strenger regulasies op makadamias instel.
EN
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het waarskuwings uitgereik oor swaar weerstoestande wat deur die loop van die week kan ontwikkel. Die Landbounavorsingsraad (LNR) raai boere dus aan om op hoogte te bly van waarskuwings wat deur die weerdiens uitgereik kan word namate die week vorder. Volgens huidige voorspellings kan donderstorms in sommige gevalle swaar wees en kan dit Woensdag in die sentrale dele van Limpopo en Noord-Mpumalanga sterk wind en hael oplewer. OFM-nuus se Elsabé Richard berig dat die sentrale en westelike dele van die Vrystaat, die noordoostelike dele van die Noord-Kaap, en die westelike tot die suidelike dele van Noordwes ook Saterdag swaar reënval kan ervaar.
OFM-nuus
