On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: NK kry droogtehulp ná 9 maande

───   ELSABÉ RICHARD 11:51 Mon, 30 Nov 2020

Landbounuus-podcast: NK kry droogtehulp ná 9 maande | News Article
File image

Sommige boere in die droogtegeteisterde Noord-Kaap het ná ‘n nege maande se wag droogtehulpfondse vir voer ontvang.


Dit is volgens Reinette Liebenberg, DA provinsiale woordvoerder vir landbou. Liebenberg sê egter nie alle boere in droogtegeteisterde gebiede het dié fondse ontvang nie en dié wat dit wel ontvang het, het minder gekry as tydens die eerste uitbetaling van R36 miljoen. Liebenberg sê die Noord-Kaap worstel steeds met die ergste droogte in 100 jaar en voeg by dat swak koördinasie van steun teenoor die boere na bewering die situasie in baie gebiede vererger het.

Intussen het die woordvoerder van die Noord-Kaapse Departement van Landbou, Omgewingsake, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, Zandisile Luphahla, vroeër aan OFM-nuus bevestig dat R36 miljoen van die Nasionale Rampbestuursfonds vir droogtehulp aan die provinsie toegeken is. Hy het verder bygevoeg dat die departement met administratiewe prosesse begin het, soos die indiening van aansoeke en om diensverskaffers te identifiseer. Die indiening van aansoeke vir droogtehulpbefondsing in drie droogtegeteisterde distrikte, naamlik Namakwa, Pixley ka Seme en ZF Mgcawu, het reeds op 16 Oktober 2020 gesluit.

EN

Sowat 43 behoeftige leerlinge van die Hoërskool Staatspresident Swart in Brandfort in die Vrystaat en hulle gesinne het kospakkies met nie-bederfbare produkte ontvang Hierdie kospakkie-inisiatief is eie aan die Karee-landbouvereniging, ‘n affiliasie van Vrystaat Landbou (VL). Die voorsitter van die vereniging, Willie Maas, sê dié inisiatief spruit uit 'n bestaande kosprojek by dié skool, waar etes Vrydae aan leerlinge deur dié landbouvereniging by die skool verskaf word. Hierdie projek is vir die afgelope vier jaar aan die gang, maar Maas sê met Covid-19 vanjaar, moes hulle dinge anders doen deur die kospakkies by die skool af te laai vir die onderwysers om aan die leerders uit te deel. Maas sê die kospakkies bestaan uit, onder meer, meel, rys, en suiker. Diegene wat graag skenkings wil doen of meer wil weet oor ander projekte waarmee die vereniging besig is, kan Karee-landbouvereniging se Facebook-blad besoek.



OFM-nuus


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.