On Now
Weekends 09:00 - 12:00
The Central SA Top 30 Nolwethu
NEXT: 12:00 - 16:00 Saterdag Siësta with Laurika
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: SA verloor elke vierde dag 'n plaas - statistieke

───   ELSABÉ RICHARD 14:35 Mon, 30 Nov 2020

Landbounuus-podcast: SA verloor elke vierde dag 'n plaas - statistieke | News Article

Suid-Afrika verloor elke vierde dag 'n plaas.


Dit is volgens statistieke wat deur die hulpverleningsorganisasie Boeredroogtehulp SA versamel is. Chris van Biljon, stigter van die hulpverleningsorganisasie, sê redes hiervoor kan toegeskryf word aan verskeie faktore soos droogtetoestande en plaasaanvalle. Hy verduidelik dat twee jaar gelede, toe die organisasie gestig is, was daar sowat 5 000 boere wat in nood verkeer, deel van die organisasie se lys. Hy sê op die oomblik bestaan hierdie lys uit sowat 3 800 boere waarvan die meeste van die boere wat die organisasie verlaat het, hulle plase moes sluit. Intussen is die organisasie betrokke by verskeie inisiatiewe om boere wat in nood verkeer te help. Diegene wat betrokke wil raak by hierdie inisiatiewe kan Boeredroogtehulp SA se Facebook-blad besoek of die organisasie se webtuiste besoek boeredroogtehulpsa.org

Daarmee saam het minstens 20-duisend beeste sedert Augustus weens die droogte in die KwaMnqwashu-gebied in KwaZulu-Natal gevrek. Die droogte raak meer as 500 boere in dié gebied. Luidens die SABC is hierdie syfers deur die provinsiale departement van Landbou en Omgewingsake bekend gestel. Klein en opkomende boere het die regering gevra om dringend in te gryp. Sommige van die boere het meer as 30 beeste verloor. Een van die boere, Alpheous Madonsela, sê die voortslepende droogte roei hulle uit. Hy sê al die damme het opgedroog en hulle moet soms tot vyf kilometer reis om water vir hulle diere te vind. Die departement het begin om kos vir die boere se diere te verskaf.

Intussen het OFM-nuus vroeër berig dat boere in die droogtegeteisterde Noord-Kaap reeds begin het om droogtehulpfondse te ontvang nadat hulle sowat nege maande moes wag. Reinette Liebenberg, DA provinsiale woordvoerder vir landbou, sê die Noord-Kaap worstel steeds met die ergste droogte in 100 jaar en voeg by dat swak koördinasie van steun teenoor die boere na bewering die situasie in baie gebiede vererger het. Gebiede wat erg geraak word deur erge droogte in die provinsie sluit in Van Wyksvlei, Springbok, Loeriesfontein en Kenhardt, wat die afgelope vier jaar ondergemiddelde reënval gekry het.

EN

Op 2 Desember 2020 vereer OFM landbougemeenskappe in Sentraal-Suid-Afrika met 'n dag wat aan hierdie onbesonge helde toegewy is aangesien hulle hierdie edele ‘beroep van hoop’ beoefen. Skakel in tussen 05:00 – 19:00 om met landbou-ikone uit die streek kennis te maak en uit te vind hoe om hulp aan hierdie belangrike sektor te verleen, wat die lewensaar van baie gemeenskappe is. Indien jy self betrokke by landbou is, laat weet ons waarmee jy boer, wat jou trots maak om 'n boer, werker of bydraer tot die waardeketting te wees, of stuur 'n boodskap van bemoediging om boere te bedank vir wat hulle elke dag vir ons doen. Gaan na ofm.co.za, en kliek op die Farmer Appreciation Day-banier op die tuisblad vir meer inligting. Deel foto's en video's op OFM se sosiale platforms met #OFMFarmerDay




OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.