Agriculture
Landbounuus-podcast: Brandseisoen kom tot 'n einde─── ELSABÉ RICHARD 17:39 Thu, 03 Dec 2020
Die onlangse reënval het die kanse dat wegholveldbrande kan ontstaan, verminder.
Dit is volgens Johan Breytenbach van die Vrystaatse Sambreel-brandbeskermingsvereniging (VSSBBV). Hy sê die voginhoud is hoog genoeg om te verhoed dat veldbrande kan ontstaan. Breytenbach voeg egter by dat as brande sou ontstaan, sal brandverspreiding stadiger wees. Hy sê as die weerpatroon voortduur soos dit nou is, dan is ons basies klaar met die brandseisoen. Intussen is die brandbeskermingsvereniging reeds besig om beplannings te doen vir die volgende brandseisoen.
Besitreg kan toegestaan word aan boere wat reeds lank op staatsgrond boer, het die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling aangedui. Luidens Landbouweekblad het die departement met die proses begin om die oorblywende deel van die nagenoeg 700 000 hektaar staatsgrond wat beskikbaar gestel is, aan swart boere uit te deel. Voor die nuwe aansoekproses, is 135 117 hektaar reeds aan 275 boere uitgedeel. Altesaam 529 014 hektaar of 894 plase sal nou aan begunstigdes wat aansoek gedoen het en aan die kriteria voldoen, uitgedeel word vir langtermyn-verhuring. ’n Ondersoek is begin na staatsgrond wat reeds beset is, om te bepaal of daar huurkontrakte bestaan of op watter wyse die betrokke boere die grond gekry het.
EN
Die adjunk-minister van omgewingsake, bosbou en visserye, Makhotso Sotyu, vergesel deur die Vrystaatse LUR vir ekonomiese, kleinsake-ontwikkeling, toerisme en omgewingsake, Makalo Mohale, asook die LUR vir landbou, William Bulwane, sal na verwagting Vrydag die Gariepdam besoek. Volgens die woordvoerder van die departement van omgewingsake, bosbou en visserye, Albi Modise, word daar 'n besoek aan die China-South Africa Aquaculture Technology Demonstration Centre (ATDC) beplan. Hy sê die sentrum is gestig om die bewustheid van die varswater-akwakultuurbedryf, op streeks- sowel as nasionale vlak, te verhoog vanweë die geleenthede wat akwakultuur bied.
OFM-nuus
