Agriculture
Landbounuus-podcast: AfriForum bedank skenkers─── ELSABÉ RICHARD 14:00 Fri, 11 Dec 2020
Afriforum gaan Saterdag almal wat bygedra het en skenkings aan boere gedoen het wat in nood verkeer het weens wegholveldbrande in die Wes-Vrystaat, op 'n geselligheid vir hulle hulp bedank.
Dit is volgens die burgerlike organisasie se Johann Steenkamp. Steenkamp voeg verder by dat dit boere ook die geleentheid sal gee om diegene wat skenkings gedoen het, te ontmoet. Hierdie funksie kom nadat boere in die Hertzogville-, Boshof-, en Hoopstad-distrikte in die Vrystaat se weivelde, lewendehawe en eiendomme in Oktober deur wegholveldbrande verwoes is.
Daarmee saam sê die nasionale Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling die Vrystaat wag nog op die uitbetaling van die provinsiale departement om 117 boere wat deur veldbrande geraak is te ondersteun. Dit het aan die lig gekom nadat Noko Phineas Mapisa, DA-lid van die Nasionale Vergadering, minister Thoko Didiza in 'n skriftelike vraag gevra het wat die steun is wat haar departement aan boere bied wat deur veldbrande in die Vrystaat en Noord-Kaap geraak is. Die departement het verder verklaar dat die Vrystaatse Departement van Landbou geaffekteerde gebiede as rampgebiede verklaar het en R15 miljoen gevra het om 117 boere by te staan. Dit, terwyl die verslag wat deur Noord-Kaap ingedien is, aangedui het dat 145 boere deur veldbrande geraak word en dat veevoer aan hulle verskaf is. Altesaam 82 ton van die provinsiale voerbanke, wat R3000 per ton kos, is voorsien.
EN
Die regering doen 'n beroep op kwalifiserende jeugdiges om aansoek te doen om verifikasiebeamptes te word as deel van die Presidensiële Stimulusprogram. Dit kom nadat die minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, Thoko Didiza, Maandag aangekondig het dat die regering R1 miljard opsy gesit het om 75 000 kleinboere te ondersteun wie se produksie negatief deur die Covid-19-pandemie geraak is. Aansoeke vir hulp is op Donderdag 10 Desember geopen. Didiza het bygevoeg dat hierdie stimuluspakket slegs gemik is op bestaansboere wat ondersteun sal word met koopbewyse vir boerderye om hulself só te onderhou terwyl hulle voedselwaardekettings in die sektor ondersteun. Suksesvolle aansoekers sal as verifikasiebeamptes aangestel word en sal help met die implementering van die Presidensiële werkskeppingstimulus-program.
OFM-nuus
