Agriculture
Landbounuus-podcast: Ivermektien slegs vir dierlike gebruik verkoop - NWK─── 10:48 Tue, 26 Jan 2021
NWK raai verbruikers aan om hulle algemene praktisyns te raadpleeg oor die behandeling van Covid-19 aangesien dit slegs ivermektien vir dierlike gebruik verkoop.
Dit kom nadat daar berig word dat mense ivermektien koop om Covid-19 te behandel. Johan Bezuidenhout, groepbestuurder van korporatiewe bemarking en kommunikasie, sê hulle ervaar wel ‘n toename in verkope maar kan dit nie noodwendig toeskryf aan die pandemie nie. Die organisasie sê verder in ‘n verklaring dat ivermektien al vir dekades lank deur boere gebruik word vir die behandeling van parasiete in vee en dat daar egter berigte ontstaan dat dit ook gebruik kan word vir die behandeling van Covid-19 pasiënte. Intussen het Afrivet voorheen in ‘n verklaring gesê plaaslike ivermektien-produkte is nie geregistreer vir menslike gebruik nie.
EN
Daar is jare gelede beraam dat dit ongeveer R3,5 miljoen sou kos om ‘n keerwal in die Modderrivier in die Soutpan-omgewing in die Vrystaat te herstel. Frieda Vorster, ‘n 84 jarige boer wie se plaas op die wal van die rivier geleë is, sê boere kan nie bekostig om hierdie keerwal te herstel nie. ‘n Groep boere, waaronder haar pa en oom, het hierdie keerwal op 19 September 1951 begin bou nadat hulle toestemming gekry het vanaf die destydse regering. Die regering het egter toe in ‘n later stadium die grond waarop die wal gebou is, uitgekoop. Swaar reën en voortdurende reënval oor die jare het die keerwal beskadig.. Vorster sê as Bloemfontein weer voortdurende swaar reën ervaar, dan is die kanse groot dat hierdie keerwal ineen sal stort. Intussen het die Vrystaat Landbou LUR, William Bulwane, Vrydag die keerwal besoek en gesê dat hy met die hoof van die plaaslike Departement van Water en Sanitasie, Tseliso Ntili, in kontak sal tree om sy ingenieurs te ontplooi om vas te stel hoe die wal bewaar kan word.
OFM-nuus/Cathy Dlodlo/Elsabé Richard
