Agriculture
Landbounuus-podcast: Veilige vervoer van plaaswerkers moet aandag kry─── ELSABÉ RICHARD 16:22 Thu, 28 Jan 2021
Die Minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, Thoko Didiza, doen 'n beroep op die landbousektor om die veilige vervoer van plaaswerkers te prioritiseer.
Reggie Ngcobo, woordvoerder van die departement, sê hierdie versoek kom ná 'n vragmotorongeluk waarby byna 80 seisoenale plaaswerkers Donderdagoggend in die Wes-Kaap betrokke was. Die minister wil hê dat die sektor 'n dringende en eerlike bespreking moet voer oor die lewensbestaan en veiligheid van alle plaaswerkers. Sy sê plaaswerkers is 'n integrale deel van 'n suksesvolle landbousektor en daarom moet hulle veiligheid en beter werksomstandighede geprioritiseer word. Didiza wens die beseerdes vinnige beterskap toe.
Die noordelike dele van die Noord-Kaap het goeie reënval ontvang. Dit is volgens Nicol Jansen, president van Agri Noord-Kaap. Jansen deel verder dat, wat die somerreënvalgebied in die Sutherland-distrik betref, het reën kol-kol voorgekom. Hy sê egter dat hierdie distrik hoofsaaklik uit bossieveld bestaan wat stadiger as grasvelde op reën reageer. Jansen voeg verder by dat dele van Fraserburg nog geen reën gehad het nie.
Die reguleringsowerheid vir gesondheidsprodukte (Sahpra) se aankondiging dat dit die gebruik van ivermektien as behandeling vir Covid-19 met sorg sal beheer en kontroleer, is nie genoeg om hofsake hieroor te stuit nie. Landbou.com berig die burgeregte-organisasie AfriForum sê die aankondiging is ’n stap in die regte rigting, maar dat dit uiters beperkend is. Daarom gaan die hofgeding teen Sahpra op 2 Februarie voort. Dit kom nadat AfriForum op 24 Januarie ’n dringende hofaansoek teen Sahpra en minister van gesondheid, Zweli Mkhize, gebring het om te verseker dat ivermektien wat vir menslike gebruik ontwikkel is, beskikbaar kan wees sodat dokters dit vir die behandeling van Covid-19 kan voorskryf. Verskeie ander
hofgedinge teen die beheerliggaam word beoog. Sahpra het Woensdag tydens ’n virtuele nuuskonferensie van die Nasionale Persklub in Pretoria bekend gemaak dat beheerde toegang met die noue samewerking van gesondheidswerkers binnekort toegelaat sal word. Nadere besonderhede oor hoe dit sal geskied, sal later volg.
EN
Agri Wes-Kaap ondersteun Vinpro se besluit om regstappe teen die regering te doen nadat 'n derde algehele verbod op alkoholverkope sedert die nasionale inperking in Maart verlede jaar aangekondig is. Vinpro-bestuurshoof, Rico Basson, sê gegewe die verwoestende impak wat dié verbod op die wynbedryf het, het dit geen ander keuse as om die Kaapse Hooggeregshof te nader nie. Jannie Strydom, hoof uitvoerende beampte van Agri Wes-Kaap, sê die organisasie sal alle pogings steun om duisende mense wie se lewensbestaan van ‘n optimaal funksionerede wynwaardeketting afhang, te beskerm.
OFM-nuus
