Agriculture
Landbounuus-podcast: VS vloedskade op paaie beloop miljoene─── ELSABÉ RICHARD 13:55 Wed, 03 Feb 2021
Die Departement van Polisie, Paaie en Vervoer in die Vrystaat sê vloedskade op provinsiale paaie word op R163 miljoen geraam.
Die provinsie ervaar die afgelope twee maande bogemiddelde reënval en dit het veroorsaak dat verskeie huise oorstroom is en paaie en brûe beskadig is. Woordvoerder van die provinsiale departement, Hillary Mophethe, sê verskeie paaie vereis skraapwerk en nuwe gruis. Intussen berig OFM-nuus se Lee Simmons voormalige vroulike boer van die jaar, Mimie Jacobs, sê sommige van die landelike en plaaspaaie is byna ontoeganklik en het 'n negatiewe impak op die landbousektor in die provinsie. Mophethe sê dat padonderhoudspanne regoor die provinsie ontplooi is om hierdie broodnodige herstelwerk te doen.
Die nuutste styging in petrol en dieselpryse is nie goeie nuus vir produsente en verbruikers nie in die sin dat die vervoerkoste sal styg, wat 'n negatiewe uitwerking op die besteebare inkomste van die verbruikers sal hê. Dawie Maree, hoof van inligting en bemarking by FNB, sê aan die produsentekant is Februarie gewoonlik 'n stil maand wat graanproduksie betref, maar daar kan egter ook verwag word dat produsentinflasie in die komende maande sal toeneem. Petrol het met 81 sent per liter gestyg, terwyl diesel met 59 sent per liter gestyg het.
EN
Die Minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, Thoko Didiza, wens die sitrusbedryf geluk met die rekorduitvoer wat hulle behaal het. Sitrus is een van Suid-Afrika se belangrikste subsektore in die landbousektor wat 'n belangrike bydrae lewer tot werkskepping en ekonomiese aktiwiteite in landelike gemeenskappe. Didiza sê die bedryf het veral die afgelope dekade uitgebrei, en bedank boere dat hulle vertroue getoon het en beleggings verhoog het. Die belegging in die bedryf begin vrugte afwerp, aangesien die Sitruskwekersvereniging berig dat Suid-Afrika in 2020 'n rekord van 146 miljoen kartonhouers sitrus uitgevoer het, wat beteken dat die land steeds die wêreld se tweede grootste uitvoerder van vars sitrusprodukte is naas Spanje. Die minister het verder bygevoeg dat die regering verbind is daartoe om saam met die bedryf en ander belanghebbendes die marktoegang tot bestemmings soos die Verenigde State, China, Indië, die Europese Unie en ander lande wat reeds Suid-Afrikaanse sitrus geniet, uit te brei.
OFM-nuus
