Agriculture
Landbounuus-podcast: Huishoudelike bekostigbaarheidsindeks bekend gestel─── ELSABÉ RICHARD 17:23 Thu, 04 Feb 2021
Die nuutste huishoudelike bekostigbaarheidsindeks is onlangs bekend gestel.
Dr Frikkie Maré, 'n landbou-ekonoom van die Universiteit van die Vrystaat, sê hierdie indeks meet die bekostigbaarheid van basiese voedsel en ander verbruiksitems spesifiek vir lae inkomste groepe. Volgens Maré is die laer bekostigbaarheid van voedsel hoofsaaklik weens faktore soos prysstygings van basiese voedselsoorte. Goeie nuus is egter die daling van sekere voedselpryse van seisoengebonde items, soos onder meer kool en groenrissies. Maré deel dat indien dit vergelyk word met die minimum loon wat tans sowat R3 200 per maand beloop, kan daar opgemerk word dat voedsel nie meer so bekostigbaar is nie weens redelike groot prysstygings.
EN
Riviervlakke is aan die styg, veral by Groblershoop in die Noord-Kaap, ná swaar reënval in groot dele van sentraal Suid-Afrika. Nicol Jansen, president van Agri Noord-Kaap, sê hulle verwag dat die piek van dié water teen Vrydag Upington sal bereik en teen Saterdag die Kakamas-omgewing moontlik kan binnestroom. OFM-nuus het vroeër berig Jansen sê boere moet seker maak dat hulle twee keer per dag die regte inligting kry ten opsigte van die vloei en vlakke van die plaaslike riviere. Jansen maan boere om toerusting van rivierwalle af weg te skuif na hoërliggende gebiede. Die provinsiale LUR vir Samewerkende Regering, Tradisionele Sake en Menslike Nedersettings, Bently Vass, het vroeër gesê dat honderde gesinne dakloos gelaat is en dat voorlopige ondersoeke daarop dui dat dit die plaaslike regering na raming tussen R40 miljoen en R100 miljoen gaan kos.
OFM-nuus
