Agriculture
Landbounuus-podcast: Twee vas vir veediefstal in Vrystaat─── ELSABÉ RICHARD 13:41 Thu, 25 Mar 2021
Twee verdagtes, waaronder 'n waarnemende polisie-stasiebevelvoerder, wat in hegtenis geneem is op aanklag van veediefstal, sal op 31 Maart in die Frankfort-hof in die Vrystaat verskyn.
Dr. Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van Vrystaat Landbou (VL), sê die duo is Maandag op heterdaad betrap waar hulle vyf skape op die plaas van Danie Muller gesteel het. Sy sê veediefstal en polisiekorrupsie is al jare lank ’n wesenlike probleem in landbou. Buys sê VL het reeds in Oktober 2020 die minister van polisie, Bheki Cele, versoek om taakspanne saam te stel om polisie-betrokkenheid by veediefstalsindikate en plaasaanvalle te bepaal en te ondersoek. VL beplan om die hofverskyning by te woon en te versoek dat die staat borgtog teenstaan, aan die hand van inligting en statistieke wat aan VL bekend is.
Die sprinkaanplaag in die Noord-Kaap is redelik onder beheer. Dit is volgens Nicol Jansen, president van Agri Noord-Kaap. Dit volg nadat sprinkaanswerms in verskeie streke gewaar is, wat groot kommer onder boere gewek het. Jansen sê daar word goeie vordering gemaak in terme van die bestryding van sprinkane. Maar, hy voeg egter by dat Kenhardt in dié stadium nog onder geweldige druk is - soveel só dat 'n helikopter lugbespuiting moet aanwend.
EN
‘n Ad hoc-taakspan, wat bestaan uit onder andere lede van Agri Noord-Kaap, is op die been gebring om bewusmaking te skep van die geweldige humanitêre en geestelike nood in die Noord-Kaap en omliggende gebiede weens erge droogte. Esté van der Merwe, bemarkingsbestuurder by Caritas Gemeenskapsfokus, deel dat die droogte in die provinsie en omliggende gebiede nog nie gebreek is nie, en dat daar ook ‘n wanpersepsie by die publiek bestaan oor hoe dit werklik op die plase lyk. Teen hierdie agtergrond het hulle besluit om vanaf 8 tot 22 Mei 2021 die Boesmanland Camino, wat oor amper 314 km strek, aan te durf ten bate van die droogtehulpfonds. Caritas Gemeenskapsfokus het ook ‘n 24-uur noodnommer ingestel waar berading gegee word aan mense wat in die knellende greep van die droogte vasgevang is.
OFM-nuus
