Agriculture
Landbounuus-podcast: Helikopter ingespan teen sprinkane─── ELSABÉ RICHARD 14:05 Tue, 30 Mar 2021
Boere en sprinkaanbeamptes in die Noord-Kaap maak gebruik van 'n helikopter om groot swerms sprinkane in die Kenhardt-distrik te bekamp.
Luidens die president van Agri Noord-Kaap, Nicol Jansen, is die sprinkane nog in hul voetgangerstadium en word groot pogings aangewend om die sprinkane te bespuit voordat hulle begin vlieg. Landbou.com berig verder dat Jansen sê die swerms is so groot dat hulle helikopters moet gebruik, want die spanne wat met bakkies werk, kan nie voorbly nie. Verskeie swerms sprinkane kom veral rondom en noord van die Benede-Oranjerivier voor, veral by Askham, Upington, Keimoes en Van Zylsrus. Vermoedelik het die sprinkane begin uitbroei ná die goeie reën wat die afgelope paar weke in die omgewing voorgekom het. Boere word aangeraai om uitbrekings dadelik by hul distrik se sprinkaanbeampte aan te meld of met die gifdepot op De Aar of Upington in verbinding te tree.
Die minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, Thoko Didiza, het Maandag onder andere met verteenwoordigers van landbou-unies, landbou-ondernemings, vakbonde en die burgerlike samelewing vergader om vordering met die meesterplan vir landbou- en landbouverwerking te evalueer. Volgens die departement se woordvoerder, Reggie Ngcobo, is hierdie pogings deel van die breër plan vir ekonomiese heropbou en herstel wat president Cyril Ramaphosa laat verlede jaar aangekondig het. Hy deel verder dat die vergadering suksesvol was omdat dit gebiede geïdentifiseer het wat verdere onderhandelinge tussen vennote en aksieplanne vir implementering vereis wanneer die departement die voltooiing van die meesterplan nader.
EN
Twee mans gaan Donderdag 1 April 2200km in 'n kajak roei om geld in te samel vir onder meer droogtehulp. Een van die roeiers, Edward-John Hill, ook bekend as Bean, sê hulle gaan vanaf Lesotho tot in Namibië via die Oranjerivier roei vir liefdadigheid - sowat 50 dae lank. Hill deel dat hulle hierdie uitdaging in samewerking met Chris van Beljon se Bring Hoop-projek aanpak en hulle dra ook die rit op aan die 19-jarige Klarissa Joubert wat haar lewe in Januarie vanjaar in die Oranjerivier verloor het. Hill sê die meeste voorbereiding is sielkundig, sowel as op Google Earth. Hulle doen ook kosvoorbereidings aangesien hulle nie baie kos sal kan saamneem nie. Hill sê hulle hoop om sowat R3 miljoen in te samel gedurende hierdie inisiatief wat hulle in staat sal stel om, onder andere, boere wat in nood verkeer weens erge droogte te kan help.
OFM-nuus
