On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor and Margaret
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: Staat moet korrupsie voorkom - Vrystaat Landbou

───   ELSABÉ RICHARD 14:19 Fri, 16 Apr 2021

Landbounuus-podcast: Staat moet korrupsie voorkom - Vrystaat Landbou  | News Article

Die staat moet sy plaaslike verteenwoordigers aanspreeklik hou en moet korrupte praktyke voorkom.

Dit is volgens Vrystaat Landbou (VL) nadat dit aan die lig gekom het dat 35% van die senior amptenare in die staatsdiens nie oor die nodige kwalifikasies beskik nie, en die erkenning dat daar korrupsie in die departement van landbou is. Die organisasie sê in 'n verklaring dat hy reeds sy kommer uitgespreek het oor die staat se onbevoegdheid om die land behoorlik te regeer wat dienslewering betref. Die president van VL, Francois Wilken, meen dit is duidelik dat die regering uit '? posisie van swak staatsbestuur radikale wetgewing voorstel wat grond en ander eiendom sentraliseer in dieselfde swak regering. Verder sê die organisasie dat landbouminister, Thoko Didiza, erken het tydens 'n vergadering met die Mkhuli-AfriForum-vereniging, wat uit 37 boere bestaan, dat daar korrupsie in haar departement is - nadat dit blyk dat boere hulle huurkontrakte verloor het na aanleiding van die eis dat hulle R250 000 elk aan administrasiefooie moet betaal. Die organisasie sê verder Didiza het erken dat sommige van die uitsettingsbevele duidelik misdadig was, en dat daar 'n gebrek aan kommunikasie tussen haar departement en boereverenigings was. Sy het verder erken dat uitsettingsbevele slegs met ministeriële goedkeuring uitgereik kan word - wat kommerwekkend afwesig was in die geval van die 37 boere.

Die ad hoc-komitee oor die wysiging van Artikel 25 van die Grondwet, sou na verwagting Vrydag sy verslag aanvaar. Die SABC berig ‘n saamgestelde verslag oor openbare sittings wat landwyd gehou is oor onteiening sonder vergoeding, is Dinsdag aan lede van die komitee gestuur. Die komitee sal ook oor verdere stappe besluit vir die voltooiing van die proses. Die minister van Openbare Werke, Patricia de Lille, het tydens een van die sittings gesê volgens ‘n grondoudit van die regering is bevind 79 persent van die grond in private besit is, 14 persent is in besit van die staat, en van 7 persent kan daar nie verslag gedoen word nie. Die ad hoc-komitee se finale verslag word op 21 Mei by die Nasionale Vergadering ingedien.

EN

Die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling het 'n uitbreking van voëlgriep op 'n kommersiële plaas in Ekurhuleni, Gauteng, bevestig. Die departement se woordvoerder, Reggie Ngcobo, sê ongeveer 300 voëls het op hierdie kommersiële hoenderslagplaas aan voëlgriep gesterf. Die monsters van hierdie plaas, wat na 'n laboratorium gestuur is, het positief getoets vir die H5-stam. Die Gautengse veterinêre owerhede het die plaas onder kwarantyn geplaas en is besig met die ondersoek na die uitbreking. Die departement moedig pluimveeboere aan om op die uitkyk te wees vir simptome soos, onder meer, 'n skielike daling in eierproduksie, waarvan baie eiers sag of sonder dop is, swelling van die vel onder die oë, hoes-, nies- en senuweeagtigheid sowel as diarree. Daarmee saam sê die departement pluimveeboere moet enige siektes en vrektes van voëls by hulle naaste staats- of private veearts aanmeld.



OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.