Agriculture
Landbounuus-podcast: Landbou-organisasies bekommerd oor wysiging tot vuurwapenwet─── ELSABÉ RICHARD 14:20 Tue, 25 May 2021
Verskeie landbou-organisasies het hulle kommer uitgespreek oor die wetswysiging vir vuurwapeneienaars.
Dit volg nadat daar nuwe voorgestelde wysigings op Vrydag 21 Mei in die Staatskoerant gepubliseer is rakende die Vuurwapenbeheerwet. Die wysigings behels onder meer dat die besit van vuurwapens vir selfverdediging verwyder word. Agri SA sê dat indien die voorstel oor selfverdediging deurgevoer word, is dit veral die boerderygemeenskap wat nadelig daardeur geraak sal word omdat hulle in afgeleë gebiede woonagtig is - ver van ’n naaste polisiestasie. Willem de Chavonnes Vrugt, president van Agri Noordwes, sê die organisasie stem saam met Agri SA en voeg by dat die boerderygemeenskap reeds kwesbaar is. Daarmee saam het Nicol Jansen, president van Agri Noord-Kaap, sy kommer hieroor uitgespreek en gesê indien die voorgestelde wysiging aanvaar word, sal dit beteken dat geen individu voortaan 'n handwapen sal kan lisensieer met selfverdediging as motivering nie.
Intussen voeg Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou, by dat die organisasie eersdaags 'n veldtog van stapel sal stuur om die voorgestelde wetswysigings op die Vuurwapenbeheerwet teen te staan.
EN
In 'n poging om die verspreiding en uitbrake van sprinkane in die Noord-Kaap en ander dele van die land te bekamp, het die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling die kommandostelsel geïmplementeer. Hierdie stelsel behels opleiding en aanstelling van sprinkaankontrakteurs om sprinkaanuitbrake te beheer. Dit is bekend gemaak nadat die DA se Noko Masipa die departement gevra het watter maatreëls ten opsigte van die uitbraak van sprinkane getref word, wat gewasse in die Noord-Kaap en ander dele van die land negatief kan beïnvloed. Die departement het verder verklaar dat hy plaagdoders, beskermende klere en spuitpompe aan hierdie kontrakteurs verskaf om die sprinkaanuitbrake te beheer voordat hulle gewasse bereik. Daarbenewens stel die departement ook kontrakteurs aan om sprinkane vanuit die lug te bespuit om te help in gebiede waar die uitbraak buite beheer en ontoeganklik is.
Intussen het OFM-nuus verlede week berig dat 'n swerm sprinkane die Wes-Vrystaat vanaf die Noord-Kaap binnegekom het. Dr. Jack Armour, kommersiële bestuurder van Vrystaat Landbou, het die publiek versoek om 'n foto en die gebied waar sprinkane waargeneem word, na Vrystaat Landbou te stuur sodat dit bespuit kan word.
OFM-nuus
