Agriculture
Landbounuus-podcast: Vrystaat Landbou reageer vinnig op sprinkaanswerms─── ELZETTE BOUCHER 13:51 Wed, 26 May 2021
Vrystaat Landbou (VL) het ingestem om R60 000 by te dra tot die koste wat boere reeds aangegaan het om te voorkom dat sprinkaanswerms na ander plase beweeg.
Dit volg na sprinkane verlede week met die sterk wind in die Vrystaat aangekom het, en op die oeslande rondom Bultfontein neergesak het. Die organisasie sê in 'n verklaring boere moes vinnig reageer om te verseker dat hul oeste en dié van hul bure nie verslind word nie. OFM-nuus se Elsabé Richard berig verder die beheer van treksprinkane word deur die Wet op Landbouplae, 1983, bestuur - en word geadministreer deur die Departement van Landbou, wat die verantwoordelikheid het om treksprinkane vanuit hul De Aar-kantoor te beheer.
Neerslae van tot 40 mm reën kan vandeesweek en volgende week oor dele van die Suidwes-Kaap, asook die Suid-Kaap en Tuinroete voorkom, met ’n redelike goeie kans op sowat 10 mm oor die suidwestelike dele van die binneland in distrikte soos Sutherland, Williston en Calvinia. Luidens Landbou.com, sê Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige, op die lang termyn is die kans op goeie reënval oor die winterreënvalstreek in die res van Junie, Julie en Augustus gunstig. Hy sê die afgelope naweek het ’n frontale stelsel goeie neerslae oor onder meer Ceres veroorsaak, en ook reën na die Swartland gebring. Die stelsel het so ver noord as Springbok, Nieuwoudtville, Calvinia en Garies oor die land ingedruk, met dié gebiede wat onderskeidelik 24 mm, 23 mm, 18 mm en 14 mm gemeet het.
EN
Edward-John Hill, wat 2 200 km met sy kajak op die Oranjerivier vanaf Lesotho tot in Namibië aangepak het vir onder meer droogtehulp, het vandeesweek sy rit voltooi. Hy het sy reis op die rivier op 1 April in Lesotho begin en moes vroeër vandeesmaand alles stop nadat stormsterk-winde daartoe gelei het dat hy sy kajak en toerusting verloor het. Hy het by sy huis in Langebaan in die Wes-Kaap aangesterk en weer die rit aangepak. Ten spyte van talle uitdagings het hy sy bestemming bereik en almal wat hom ondersteun het, bedank.
OFM-nuus
