Agriculture
Landbounuus-podcast: 2021 NAMPO Oesdag gekanselleer─── ELSABÉ RICHARD 10:32 Thu, 03 Jun 2021
Die 2021 NAMPO Oesdag, wat vir 17 tot 20 Augustus herskeduleer was, is gekanselleer.
Graan SA het dit Woensdag 2 Junie in 'n verklaring bekend gemaak. Die organisasie sê na die aanvanklike uitstel vroeër vanjaar, sou die regeringsbeleid en -riglyne dit toelaat, het die koms van die 3de COVID-19-golf en die wysigings aan die inperkingsvlakke onder die Nasionale Rampstaat, die organisasie met geen alternatief gelos nie. Graan SA sê met meer as 750 uitstallers wat aan hierdie landbouskou deelneem, is die visier nou op 2022 gestel.
Die Rooivleisprodusente-organisasie, oftewel RPO, in die Noord-Kaap het Woensdag sy jaarkongres gehou. Dirk Kurpool, bedryfsbestuurder van die organisasie, sê die kongres het hoofsaaklik gefokus op die belangrikheid van naspeurbaarheid in die rooivleisbedryf. Hy voeg by dat die RPO hande met die departement van landbou sal vat om te verseker dat daar 'n naspeurbaarheidstelsel in die land gevestig word. Hy meen dat siektes soos bek-en-klouseer, wat onlangs in KwaZulu-Natal bevestig is, deur middel van naspeurbaarheid hok geslaan kan word.
EN
'n Bekende in die veebedryf, Chris Derksen, verskaf soos oudergewoonte die veilingspryse vir lewendehawe. Hy versprei dié inligting sodat produsente en kopers dieselfde inligting tot hul beskikking het om sodoende ingeligte besluite te kan neem met die aankoop en verkoop van lewende hawe op veilings. Die Noord-Vrystaat word as 'n indeksgebied gebruik. Volgens Derksen het speenkalwers op die plaaslike veilings, onder 200kg, teen R42,01 per kg verkoop. Speenkalwers tussen 200kg en 250kg het teen R40,23 en speenkalwers oor 250kg het teen R37,76 per kg verkoop.
OFM-nuus
