Agriculture
Landbounuus-podcast: Clover sluit SA se grootste kaasfabriek in Noordwes─── 14:24 Tue, 08 Jun 2021
Die suiwelgroep Clover gaan Suid-Afrika se grootste kaasfabriek in Lichtenburg, Noordwes, sluit.
News24 berig Clover skryf hierdie besluit toe aan voortgesette swak dienslewering 'deur die plaaslike munisipaliteit'. Ná groot verliese weens jare lange ontwrigting van water en elektrisiteit, skuif Clover sy produksie-aktiwiteite in Lichtenburg na Queensburgh naby Durban, waar die maatskappy reeds 'n aanleg het. Clover sê dat hy al jare lank probeer om die Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit oor dienslewering te raadpleeg - sonder sukses. Onderbrekings in elektrisiteit en watervoorsiening het sy kaasproduksie erg getref, veral wat betref die behandeling en pasteurisering van melk.
Die Herkouer Veterinêre Vereniging van Suid-Afrika, of Ruvasa, het verskeie bedreigings ten opsigte van dieresiektes geïdentifiseer en maan boere om op die uitkyk hiervoor te wees. Ook die Rooivleisprodusente-organisasie sê dat een van die mees vernietigende uitbrake - naamlik drie dae stywe-siekte - in die afgelope drie maande voorgekom het. Dié organisasie sê dit is belangrik om dragtigheidstoetse te doen omdat aansteeklike siektes daartoe kan lei dat fetusse heropgeneem word. Verder is daar die geval op ‘n plaas waar die rondewurm-stam op die plaas weerstandig teen alle aktiewe ontwurmingsgroepe is. Boere moet die oogkleur van al hulle skaapkuddes weekliks nagaan. Daarmee saam word daar ná die goeie reën, wat in baie gevalle voorgekom het, ‘n uitbarsting in bosluisgetalle aangemeld. Blou bosluise kan Afrika en Asiatiese rooiwater - wat in agt provinsies aangemeld is - anaplasmose en knopvelsiekte oordra. Hartwater, wat deur bont bosluise oorgedra word, is in agt provinsies aangemeld.
Intussen het die Vrystaatse Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling gister (Maandag) bekend gemaak dat 'n uitbraak van die hoogs patogene voëlgriep op drie plase in die Vrystaat bevestig is. Dr Patricia Froneman, staatsveearts in Frankfort, sê die virus is op plase in Villiers, Parys en Wesselsbron aangemeld. Sy sê onder voëls word griepvirusse deur direkte kontak met besmette spesies, of deur besmette voedsel of water versprei. Weens die weerstandbiedende aard van die virus, sê Froneman kan dit maklik deur middel van plaastoerusting en klere rondgedra word, wat dan só van plaas tot plaas versprei kan word. Die Departement het veldveeartse ontplooi om die uitbraak van hierdie virus te hanteer. Hulle versoek ook ander veldpersoneel om waaksaam te wees om te verseker dat die virus vroeg opgemerk word en vinnig daarop te reageer.
EN
Die afgelope paar dae het temperature effe herstel ná uiters koue toestande die eerste naweek van Junie regoor Suid-Afrika. Landbou.com berig in dele van die Oos- en Suidoos-Vrystaat, asook op Mpumalanga se Hoëveld, is minimum temperature van -5 °C en laer onder meer op 3 Junie gemeet. Sterk wind het voorgekom, wat die aanvoelbare temperatuur verlaag het. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige, sê verder die moontlikheid bestaan dat baie koue toestande met swaar ryp van middel Junie oor groot gedeeltes van Suid-Afrika kan voorkom. Hy sê dat min reën tot 15 Junie vir bykans die hele land verwag word. Ligte neerslae kan rondom 8 tot 10 Junie oor die westelike binneland voorkom terwyl ’n swak frontale stelsel oor dié deel van die land beweeg.
OFM-nuus
