On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: 89 Vrystaatse veldbrande binne 48 uur

───   ELSABÉ RICHARD 14:12 Wed, 30 Jun 2021

Landbounuus-podcast: 89 Vrystaatse veldbrande binne 48 uur | News Article

Infrarooi-satellietbeelde wys dat daar teen 15:00 Dinsdagmiddag, binne 'n tydperk van net 48 uur, ongeveer 89 veldbrande regoor die Vrystaat ontstaan het.

Johan Breytenbach van die Vrystaatse Sambreel-brandbeskermingsvereniging, sê erge brande is op 28 en 29 Junie in die Vrystaat ervaar, en dat die Suid-Afrikaanse Weerdiens in die voorafgaande dae verskillende waarskuwings uitgereik het, terwyl die brandbeskermingsvereniging ook 'n aantal waarskuwings op sosiale media-platforms versprei het. Breytenbach sê geen berigte oor sterftes of ernstige beserings is ontvang nie. Die jongste veldbrand is Dinsdag buite Boshof aangemeld. Volgens infrarooi-satellietbeelde het daar 25 veldbrande in die Thabo Mofutsanyana distriksmunisipaliteit ontstaan. Dit, terwyl 20 in Lejweleputswa-, 19 in Fezile Dabi-, 14 in Mangaung Metro- en 11 veldbrande in die Xhariep-distriksmunisipaliteite ontstaan het.

Daarmee saam het OFM-nuus vroeër berig dat Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige, boere gewaarsku het oor die ontstaan en verspreiding van veldbrande. Dit, soos sterk winde gewoonlik met kouefronte gepaard gaan. Van den Berg het verlede week gesê die kanse dat veldbrande kan ontstaan, veral nou baie hoog is weens ‘n oormaat brandmateriaal ná goeie reën aan die begin van die jaar. Hy het boere versoek om nie nou voorbrande te maak nie omdat die brand vinnig buite beheer kan raak weens die sterk winde. Hy raai boere aan om eerder die gras plat te sny en om brandpaaie te maak.

EN

Zoeloelandse vee-eienaars binne die tydelike bek-en-klouseer-kwarantynsone, wat nou al langer as ’n maand geld, kan moontlik binnekort die kwarantyn se bewegingsbeperkings begin verbreek uit desperaatheid om weer ’n inkomste te verdien. Luidens 'n artikel deur Landbou.com, is dít die waarskuwing van Angus Williamson, voorsitter van die KwaZulu-Natalse Rooivleisprodusente-organisasie. Hy sê die betrokke veeprodusente steun pogings van die regering se veeartsenykundige amptenare op grondvlak om die omvang van Suid-Afrika se jongste bek-en-klouseer-uitbreking te identifiseer en te bestuur. Hulle is egter bekommerd dat die beweerde stadige verwerking van toetsmonsters by Onderstepoort Veeartsenykundige Instituut en die gebrek aan kommunikasie en sigbare leiding van hooggeplaastes om die uitbreking te stuit, tot ’n onnodige verlenging van die kwarantyn kan lei. Williamson sê dit is baie frustrerend vir veeprodusente in die kwarantyn-gebied wat diere gereed het om te verkoop, veral die voerkrale, en hulle sukkel nou om geld te kry om die diere aan te hou voer.




OFM-nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.