Agriculture
Landbounuus-podcast: Vrede lewensvatbaarheidstudie saak gaan voort─── ELSABÉ RICHARD 13:50 Mon, 05 Jul 2021
Die hofsaak wat verband hou met die lewensvatbaarheidstudie vir die omstrede Vrede-suiwelprojek van byna R25 miljoen, het Maandag 5 Julie in die Bloemfonteinse landdroshof in die Vrystaat voortgegaan sonder dat die beskuldigdes teenwoordig was.
Die staatsaanklaer in die saak, Peter Serunye, het aan landdros Mbuyiselo Didi gesê dat alle betrokkenes, insluitend die beskuldigdes, reeds verlede week ingestem het om die prosedure in hul afwesigheid uit te stel om sodoende die stygende Covid-19-infeksies te beperk. Serunye het versoek dat die saak tot 6 September uitgestel word. OFM-nuus se Elsabé Richard berig die studie is aan die Gupta-gekoppelde Nulane Investments uitgekontrateer om die lewensvatbaarheid van die Vrede-suiwelprojek onder die "Mohoma Mobung"-inisiatief te bepaal.
Vrystaat Landbou (VL) en die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) is bekommerd dat die huidige vlak 4 Covid-19 regulasies, wat padblokkades om Gauteng insluit wat onder andere deur SAPD se Veiligheidskoördineerders beman moet word, kan moontlik ‘n leemte in polisiëring in landelike gebiede laat. Dié twee organisasies versoek boere daarom om ingeskakel te wees by veiligheidstrukture in hul onderskeie areas, maar veral in die Noord-Vrystaat, ten einde paraatheid en sigbaarheid in die landelike gebiede daar te stel. Luidens Tommie Esterhuyse, vise-president van VL, word talle Veiligheidskoördineerders van hul daaglikse take in landelike gebiede onttrek om diens by padblokkades te verrig wat vanaf 1 Julie op die grense van Gauteng opgestel is. Esterhuyse sê skakeling van verdagte persone, voertuie en beweging veral gedurende die aandklokreël moet deur landbougemeenskappe, veral waar plaaswag-strukture gevestig is, met erns hanteer word. VL beveel aan dat landbougemeenskappe betrokke moet wees met hoër sigbaarheid ten opsigte van wit/blou lig patrollies, veral witlig patrollies in hul onderskeie areas. Enige inligting moet aan veiligheidsverteenwoordigers van landbouverenigings en landelike veiligheidskoördineerders deurgegee word.
EN
Intussen het 'n opposisieparty 'n beroep gedoen op die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Nkosazana Dlamini-Zuma, om vlak 4 se regulasies wat veeveilings verbied te heroorweeg. Die DA-woordvoerder, Noko Masipa, sê tydens verlede jaar se vlak 4-inperkings is veeveilings onder streng veiligheidsprotokolle toegelaat. Die regulasies het toe bepaal dat veilings mag plaasvind indien slegs vee-eienaars, vee-agente, en vee-agentskappe wat by die Landbouprodukte-agenteraad, oftewel APAC, geregistreer is, veilings kon hou of bywoon, op voorwaarde dat hulle die nodige dokumentasie onder die Veediefstalwet besit om vee te vervoer na en van die plek waar die veiling aangebied word.
OFM-nuus
