Agriculture
Landbounuus-podcast: Departement ondersoek oorsprong van bek-en-klouseer in KZN─── ELSABÉ RICHARD 10:53 Thu, 08 Jul 2021
Die minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, Thoko Didiza, sê die oorsprong van die uitbreking van bek-en-klouseer in KwaZulu-Natal word nog ondersoek.
Die SABC berig minstens drie distriksmunisipaliteite in die provinsie is tot siektebestuursgebiede verklaar. Dit volg nadat ‘n uitbreking van die siekte in Mei in die Umkhanyakude-distriksmunisipaliteit in die noorde van die provinsie ontdek is. Die virusstam is geïdentifiseer as FMD-SAT-2. Ekonome het intussen kommer uitgespreek oor die uitdagings van bioveiligheid in die vee- en pluimveesektore.
Boere Droogtehulp SA NPC is op pad na Fochville buite Potchefstroom in die Noordwes om skenkings aan boere daar te oorhandig. Dit volg nadat onlangse veldbrande verwoesting in die omgewing gesaai het. Chris van Beljon, stigter van dié droogtehulp-organisasie, sê aan OFM-nuus dat sowat 11 plase deur die veldbrande geraak is. Nege van die plase is totaal afgebrand - insluitend huise. Hy sê 20 bakkies en 20 trokke is propvol gelaai met skenkings. Hy sê die organisasie beplan om teen einde Augustus vanjaar weer skenkings aan boere in nood te maak. Besoek Boere Droogtehulp SA NPC se Facebook-blad of webtuiste vir meer inligting.
EN
Indien jy kan hulp verleen of graag by droogtehulpprojekte wil betrokke raak, besoek ofm.co.za, kliek op “read” en blaai af na die “featured pages” afdeling regs, daar sal jy die Agri Aid-blad vind met verskeie skakels na droogtehulporganisies wat jy kan ondersteun. Vir die jongste nuus, volg die hutsmerk #LandbouHoop.
OFM-nuus
