On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: Vrystaat deur veldbrande geteister

───   ELSABÉ RICHARD 14:19 Tue, 13 Jul 2021

Landbounuus-podcast: Vrystaat deur veldbrande geteister  | News Article
Photo: Twitter/Working on fire

Die verwoestende veldbrande van Oktober 2020 het nuusopskrifte regoor die land gehaal toe sowat 100 000 hektaar veld in die Hertzogville-, Boshof-, en Hoopstad-gebied in die Vrystaat deur wegholbrande verwoes is.

Boere het nie net veeweiding verloor nie, maar ook plaasinfrastruktuur en hul diere. Die provinsie is Maandag 12 Julie weer deur veldbrande in verskeie gebiede geteister. Veldbrande het Dinsdagoggend nog aktief in die Jagersfontein-omgewing gebrand en boere, onder andere, het ingegryp om te help om die brande onder beheer te kry. 'n Vrystaatse boer, Thys Grobbelaar van die plaas De Hoop, het aan OFM-nuus gesê dat hulle Maandagmiddag begin het om vuur te slaan by Soutpan buite Bloemfontein. Hy sê daar was ook 'n redelike groot brand by die Bultfontein/Brandfort-pad. Grobbelaar sê dit is wonderlik hoe boere en die breër publiek mekaar in nood help.

EN

Boere en strukture van die Vrystaatse Brand-beskermingsvereniging het dwarsdeur Maandagaand brande bestry ná 'n dag van koue en winde van tot 70km per uur. Vrystaat Landbou (VL) bevestig dat die meeste van die veldbrande in die suid-westelike Vrystaat, in die Xhariep-distrik, plaasgevind het, waarvan die grootste brande naby Edenburg ontstaan het en tot oor die N1 naby Tierpoort gebrand het. Volgens Johann Breytenbach van die Vrystaatse Sambreelbrandbeskermingsvereniging het die aanvanklike brand 'n oppervlakte van meer as 62km beslaan met 'n brandfront van tot 50km breed. Verliese van vee, wild en strukture wat deur die brand verswelg is, is gerapporteer. Dr Jack Armour, kommersiële bestuurder van VL sê egter daar is nog nie volle sekerheid oor die totale omvang van die skade nie.

Die organisasie doen 'n beroep op diegene wat geaffekteerde boere wil help om die organisasie se webtuiste te besoek vir meer inligting oor hoe om skenkings te doen. Die publiek kan ook 'n SMS met die woord 'SKENK' stuur na 37846. SMS'e kos R1,00. B's en V's geld.





OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.