Agriculture
Landbounuus-podcast: 500 000 hektaar veld verwoes in Noordwes─── ELSABÉ RICHARD 13:47 Tue, 07 Sep 2021
Meer as 500 000 hektaar veld is in totaal hierdie jaar in Noordwes weens wegholveldbrande verwoes.
Willem de Chavonnes Vrugt, president van Agri Noordwes, sê daar is die afgelope tyd amper daagliks veldbrande in die provinsie aangemeld. Hy sê geaffekteerde boere het 'n groot behoefte aan voer.
Intussen is 'n totaal van byna 300-duisend hektaar veld gedurende die huidige brandseisoen in die Noord-Kaap weens veldbrande verwoes. Volgens Nicol Jansen, president van Agri Nood-Kaap, het verskeie veldbrande die afgelope naweek in die Kalahari voorgekom. Hy sê die brande is hoofsaaklik deur weerlig veroorsaak, maar dat 'n baie groot veldbrand sowat 81-duisend hektaar veld teen die R31 tussen Daniëlskuil en Kuruman verwoes het. Dit is baie moeilik om dié brand onder beheer te bring. Jansen maan motoriste om versigtig te wees en nie sigaretstompies by die vensters uit te gooi of oop vure te maak nie want dit versprei vinnig weens die sterk winde.
Daarmee saam het boere in die Vrystaat ook groot skade weens wegholveldbrande gely. OFM-nuus het Maandag berig dat die grootste brand in die Ventersburg-omgewing aangemeld is, terwyl dorpe soos Dewetsdorp, Ficksburg en Winburg ook veldbrande aangemeld het. Hansie Swanepoel, distrikslandbou-unie voorsitter in Dewetsdorp, sê Piet van Staden van die plaas Aanmekaar het 400 van sy dragtige Dohne marino-ooie in die brande verloor. Swanepoel sê hulle het 'n inisiatief van stapel gestuur om ooie vir Van Staden in te samel om hom op sy plaas te hou. Verder sê Dr Jack Armour, Bedryfsbestuurder van Vrystaat Landbou, dat geaffekteerde boere 'n groot behoefte aan voerbale en mielies het. Hy sê vir enige skenkings of voer wat te koop aangebied kan word, kan die organisasie se kantoor gekontak word. Besoek die organisasie se webtuiste vir meer inligting.
EN
Nog kouefronte gaan vandeesweek oor Suid-Afrika beweeg, met skerp dalings in die temperatuur wat van Dinsdag 7 September af oor die sentrale en suidelike dele van die land verwag word. Netwerk24 berig Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige, sê ligte ryp is Woensdag moontlik op plekke soos Prieska, Bloemfontein, Aliwal-Noord, Fauresmith, Kokstad en verder suid in die binneland. Van den Berg sê verder die risiko vir ryp- en koueskade word minder, veral verder noordwaarts, maar ryp is steeds moontlik in September en selfs begin Oktober in die Vrystaat, die suidelike dele van die Noord-Kaap, en die sentrale tot noordelike dele van die Oos-Kaap. Baie warm toestande met temperature van 30°C tot 36°C gaan na verwagting voorkom vanaf ongeveer 10 September oor die sentrale tot noordelike dele van die Noord-Kaap.
OFM-nuus
