Agriculture
Landbounuus-podcast: Kunsmispryse laat boere na hul asems snak─── ELSABÉ RICHARD 14:07 Thu, 21 Oct 2021
Ons staan aan die begin van planttyd vir die nuwe seisoen met kunsmispryse wat boere na hul asems laat snak. Sommige produkte se pryse is amper 70% hoër as verlede jaar.
Siende dat gewasse voedingstowwe nodig het om goeie opbrengste te lewer, het boere nie regtig ‘n keuse nie. Ingrid Boshoff, een van Syngenta se tegniese deskundiges, sê egter dat slim onkruidbeheer die impak van hoë kunsmispryse kan versag. Sy sê verskeie globale faktore dra tans by tot die hoë kunsmispryse. Daarmee saam beklemtoon sy die belangrikheid van onkruidbeheer op veral mielies. Boshoff verduidelik dat daar vier groeistadiums in die lewe van ‘n mielieplant is en dat onkruidkompetisie gedurende hierdie stadiums baie skade kan aanrig. Daarom is ‘n volledige onkruidbeheerprogram belangrik om die mielieplant te beskerm tydens al die kritieke stadiums van groei.
Verskeie landbou-organisasies, waaronder die Ashkam-boerevereniging in die Kalahari, sowel as die veiligheidsrisiko-ontleder, dr. Jane Buys, van Vrystaat Landbou, sê mense wat onwettig met honde op boere se plase jag, skep 'n gevaar vir groeiende konflik. Buys sê die praktyk is wreed en behoort dringend aandag te geniet. Sy voeg by dat boere gereeld in konfliksituasies beland met mense wat onwettig op hulle plase betrap word, wat met tot 15 honde op 'n slag op hulle grond jag. Verder beklemtoon Ompile Masegela, polisiewoordvoerder in die ZF Mcgawu-streek in die Noord-Kaap, dat hierdie optrede onwettig is. Masegela sê bewusmaking is nodig om die praktyk stop te sit.
EN
'n Bekende in die veebedryf, Chris Derksen, verskaf soos oudergewoonte die veilingspryse vir lewendehawe. Hy versprei dié inligting sodat produsente en kopers dieselfde inligting tot hul beskikking het om sodoende ingeligte besluite te kan neem met die aankoop en verkoop van lewende hawe op veilings. Die Noord-Vrystaat word as 'n indeksgebied gebruik. Volgens Derksen het speenkalwers, onder 200kg, teen R43,88 per kg verkoop, terwyl speenkalwers tussen 200kg en 250kg, teen R40,19, en speenkalwers oor 250kg, teen R38,07 per kg verkoop het.
OFM-nuus
