Agriculture
Landbounuus-podcast: Nog niemand vas vir aanval op plaaswerkers nie─── ELSABÉ RICHARD 13:49 Mon, 01 Nov 2021
Niemand is nog in hegtenis geneem ná die skietery op drie plaaswerkers by die Balmacara-plaas op die grens tussen Suid-Afrika en Lesotho in die Vanstadensrus-distrik nie.
Volgens polisiewoordvoerder in die Vrystaat, Motantsi Makhele, het die polisie 'n soektog van stapel gestuur nadat vyf onbekende gewapende mans Donderdagmiddag by die plaas opgedaag en op drie plaaswerkers losgebrand het wat besig was om kos voor te berei. Hy sê die polisie het ’n saak van poging tot moord geopen en doen ’n beroep op enigiemand wat dalk inligting oor die voorval het om hul naaste polisiestasie te kontak.
Meeste van die damme in Sentraal Suid-Afrika is reeds vol, en sou ons meer reën ervaar, bestaan daar ‘n moontlikheid van oorstromings in die laagliggende gebiede waar hierdie damme geleë is. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige, sê hoewel min reën in die eerste week van November verwag word, lyk dit of reënbuie van die tweede week af in die oostelike dele gaan vorm. Hy waarsku ook oor moontlike uitbrake van sprinkaanswerms.
EN
Die staat het sy belofte gestand gedoen dat daar in Oktober om hennep-permitte aansoek gedoen kan word. Minister van Landbou, Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, Thoko Didiza, het verlede week aangekondig dat kwekers, navorsers, verwerkers en vervaardigers van die hennepbedryf die aansoekvorms hiervoor op die departement van landbou se webtuiste kan vind. Die mandaat vir die permitstelsel is van die Departement van Gesondheid en die reguleringsowerheid vir Suid-Afrikaanse gesondheidsprodukte (SAHPRA), na die Departement van Landbou, Grondhervorming, en Landelike Ontwikkeling oorgedra. Dit beteken dat dié departement nou verantwoordelik sal wees om permitte aan produsente toe te staan. Die permitte van bestaande permithouers vir hennep sal ook na die departement oorgedra word. Didiza sê die verklaring van hennep as ’n landbougewas maak nou voorsiening daarvoor dat dit ingevoer, uitgevoer, gekweek, verkoop en navorsing oor die gewas in Suid-Afrika gedoen kan word.
OFM-nuus
