Agriculture
Landbounuus-podcast: NK vrou dood in plaasaanval─── ELSABÉ RICHARD 16:19 Wed, 19 Jan 2022
Een vrou is dood terwyl 'n ander vrou, wat die eienaar van 'n plaas in Vanwyksvlei in die Noord-Kaap is, beseer is nadat 'n plaaswerker by haar huis ingebreek en haar met 'n piksteel aangerand en probeer verkrag het.
Sergio Kock, 'n polisiewoordvoerder, sê die 60-jarige verdagte het 'n jaggeweer uit die 78-jarige plaaseienaar se kluis gevat en verskeie skote in haar kamer afgevuur waartydens hy sy 58-jarige vrou doodgeskiet het. Kock sê die eienaar van die plaas kon wegkom en 'n aangrensende boer het die polisie van die voorval in kennis gestel. Die verdagte is kort ná die insident by sy huis op die plaas in hegtenis geneem en sal in die Carnarvon-landdroshof op klagtes van onder meer moord en poging tot moord verskyn, asook poging tot verkragting en aanranding met die opset om ernstig te beseer.
Masjinerie ter waarde van R3,2 miljoen, wat sal help met die plant en stroop van aartappels, is Dinsdag aan die Richtersveld Growers-projek in die Namakwaland-streek in die Noord-Kaap geskenk. Dié masjinerie sluit in een aartappelplanter, twee aartappelstropers en twee aartappelsleepwaens. Die Richtersveld Growers-projek is aan die oewer van die Oranjerivier geleë. Die Noord-Kaapse LUR van die Departement van Landbou, Omgewingsake, Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, Mase Manopole, vergesel deur ander belanghebbendes, het die Richtserveld Growers-projek se plaas besoek. Manopole het gesê die projek het meer as 60 werksgeleenthede geskep en het 'n potensiaal om meer werksgeleenthede in die volgende vier jaar te skep.
Die Departement van Water en Sanitasie sê nog twee sluise is by die Vaaldam geopen. Drie van die vyf sluise wat voorheen oopgemaak is, is egter gesluit, maar as gevolg van die voortgesette reën in die opvanggebiede wat die Vaal-Oranjerivierstelsel en die Geïntegreerde Vaalrivierstelsel voed, was daar 'n toename in invloei. Die departement se woordvoerder, Sputnik Ratau, waarsku boere om toerusting wat weens die uitvloei beskadig kan word, te verwyder.
EN
Toyota SA se Nasionale Jong Afslaerskompetisie vir 2022 het afgeskop. Daar is twee kategorieë, naamlik nasionale jong afslaers tussen die ouderdomme van 19- en 35-jaar oud, sowel as junior afslaers tussen 14- en 18-jaar oud. Groot pryse kan gewen word en dit sluit in ‘n oorsese reis ter waarde van R55 000, waar internasionaal meegeding kan word. OFM se Pieter Moller berig die junior-afdeling van die kompetisie sal ook deel uitmaak van nasionale jeugskoue. Stuur ‘n epos na deidre@plaasmedia.co.za of skakel 066 138 5771 vir meer inligting oor hoe om in te skryf vir die kompetisie.
OFM-nuus
