On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Nolwethu
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Agriculture

Nagevolge vir boere wat nie aan nodige vereistes voldoen nie

───   ELSABÉ RICHARD 05:00 Mon, 24 Jan 2022

Nagevolge vir boere wat nie aan nodige vereistes voldoen nie | News Article

Boere staan die risiko om swaar beboet te word indien hulle nie aan vereistes voldoen wat die vergoedingsfonds in plek gestel het vir onder meer werksbeserings nie.

Stephan Pietersen, stigter van Work Accident Support, sê boere kan tot 10% van die verklaarde jaarlikse verdienste betaal indien hy of sy versuim om binne sewe dae ‘n werksongeluk op die plaas aan te meld. 

Sien onderstaande PODCAST

Ander boetes sluit in:

  • 'n Boete gelykstaande aan die volle bedrag van vergoeding, plus rente, indien die boer versuim om alle vereiste inligting aan inspekteurs te voorsien.
  • ‘n Boete dubbel die bedrag van drie maande se vergoeding, plus rente, indien die boer versuim om ‘n salaris vir ‘n werker te betaal terwyl hy van diens af is.
  • ‘n Boete gelyk aan volle die koste van die vervoer, indien die boer versuim om vervoer aan ‘n beseerde werker te verskaf.

Indien beroepsgesondheid- en veiligheidsinspekteurs vind dat die veiligheid van werkers in die werkplek bedreig word, is daar ook verskillende kennisgewings wat uitgereik kan word aan die boer.

Pietersen verduidelik dat hierdie kennisgewings ‘n verbod- en oortredingskennisgewing insluit.

“Die verbodkennisgewing is waar daar gevind word dat die gebruik van masjinerie byvoorbeeld verbied kan word, en dit kan natuurlik ‘n effek hê op die voortbestaan van die boerdery as [die boer] nie sy masjinerie vir ‘n sekere tydstip kan gebruik nie.

“Die oortredingskennisgewing is wanneer ‘n boer byvoorbeeld 60 dae kans gegee word om enige van die oortredings reg te stel, indien nie, kan hy vervolg word.”

LEES: Werkbeserings op plase – hier's wat jy moet weet

Inspeksies deur beroepsgesondheid- en veiligheidsinspekteurs op plase, en ander besighede, is besig om toe te neem. Daarmee saam neem inspeksies deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) ook toe omdat hulle wil kyk na belastingbetaling deur die boer, sowel as werkers se versekering.

As die boerdery as ‘n private maatskappy geregistreer is, moet registrasie dokumente beskikbaar wees indien dit van die boer gevra word. Ander dokumente wat ook in plek moet wees, sluit in werkspermitte sowel as afskrifte van paspoorte en identifikasiedokumente van werkers.

Pietersen waarsku boere om hulself nie in ‘n posisie te plaas waar hulle in warm water kan beland nie. Hy raai boere aan om nie persone aan te stel, selfs al is dit net vir een dag, wat nie die nodige identifikasiedokumente beskikbaar het nie.

“As iets wel sou gebeur en ‘n besering aan diens moet gerapporteer word en [die boer] kan nie enige identifikasie [van die werker] voorsien nie, dan kan die boer in die moeilikheid [beland].”

Hy voeg verder by dat boere ook rekord moet hou van kontakbesonderhede sowel as afskrifte van identifikasiedokumente van werkers en dit ten alle tye beskikbaar sal hê. Dit, want wanneer inpekteurs ondersoeke doen, soek hulle ook gewoonlik ‘n rekord van wie almal vir die boer werk of gewerk het gedurende die laaste jaar.



OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.