Agriculture
Agri-Uur: Jongste Safex-nuus─── 05:00 Tue, 25 Jan 2022
Hierdie verslag word deur Graan SA (GSA) verskaf.
Mielies:
Die Amerikaanse mieliemark het gister effens negatief verhandel weens toenemende spanning tussen Rusland en Oekraïne.
‘n Versterkte Dollar het ook die kans vir enige winste stopgesit. Verbeterende weerstoestande oor Suid-Amerika het ook sy tol geëis op die mark.
Die plaaslike mark het gister gemeng verhandel met witmielies wat baie klein winste en verliese getoon het.
Die geelmieliekontrak het vir lewering in Julie 2022 R18/ton sterker verhandel vir die dag om teen R3 584/ton te sluit. Die witmieliekontrak het vir lewering in Julie R2/ton laer verhandel om teen R3 487/ton te sluit.
Sojabone:
Die Amerikaanse sojaboonmark het in die voetspore van mielies gevolg en het ook ‘n swakker verhandelingsessie ervaar.
Hierdie verswakking kan toegeskryf word aan ‘n versterkende Dollar, verbeterende weervoorspellings oor Suid-Amerika en ‘n verlaging van uitvoer.
‘n Onlangse studie het bevind dat Amerika se totale hektare vir sojabone toegeneem het omdat produseerders wegbeweeg van mielies, wat baie hoë insetkostes verg, na sojabone wat effens goedkoper is.
Die sojaboon Januarie '22-kontrak het R 70/ton hoër verhandel teen R8 350/ton. Die sojaboon Maart '22-kontrak het R69 laer teen R8 100/ton verhandel. Die sojaboon Mei ’22-kontrak het teen R7 963/ton, R39 laer verhandel.
Koring:
Die Amerikaanse koringmark was die uitskieter met ‘n positiewe verhandelingssessie.
Die sterker sessie kan toegeskryf word aan die toenemende spanning tussen Rusland en Oekraïne, wat albei groot rolspelers is in die Internasionale koringmark.
Die plaaslike koringmark het nederige winste getoon gister met ‘n moontlikheid van nog ‘n positiewe sessie vandag.
Die koring Januarie '22-kontrak het teen R5 845/ton verhandel. Die koring Mei ’22-kontrak het teen R5 945/ton verhandel.
OFM-nuus
