Agriculture
Troef hoë insetkoste - boere genooi om herlewingskonferensies by te woon─── ELSABÉ RICHARD 05:30 Tue, 15 Feb 2022
Hoë insetkoste was die afgelope maande ‘n gonswoord in landbougemeenskappe regoor Suid-Afrika.
Dit was die geval nadat pryse vir kunsmis en brandstof onder meer die hoogte in geskiet het.
In ‘n poging om boere te help om hoë insetkoste te troef, sê Chris Burgess, die hoofredakteur van Landbouweekblad, dat hulle ‘n reeks herlewingskonferensies in Reitz, Ottosdal en Stellenbosch gaan aanbied.
Sien onderstaande PODCAST
Burgess verduidelik dat die herlewingskonferensies poog om boere te help kyk na hoe hulle die natuur se natuurlike stelsels kan inspan om insetkoste beter te kan bestuur.
Hy verduidelik in ‘n verklaring dat “met die astronomiese styging in insetkoste is dit natuurlik ook ’n goeie tyd om weer idees uit te ruil oor hoe die natuur ingespan kan word om boere se koöperasie-rekening ’n bietjie te besnoei. Ons moet eenvoudig maniere vind om goedkoper en meer volhoubaar te boer.”
Burgess sê enigiemand wat op een of ander manier betrokke is in landbou sal baat vind by die konferensies, so hulle kan uitsien na nie net teoretiese inligting nie, maar ook na boereproewe, praktiese demonstrasies en om selfs saam met kundiges in die veld te stap.
Die konferensies spog met plaaslike sprekers soos boere en kundiges, en ook internasionale sprekers wat hulle kennis met boere kom deel. Van die plaaslike sprekers sluit in Professor Johnnie van den Berg, ‘n entomoloog, en Mary Maluleke, ‘n ekonoom, wat konferensiegangers op Reitz en Ottosdal gaan toespreek.
Internasionale sprekers is Pablo Etcheberry, ‘n Argentynse beesboer wat ultrahoëdrukbeweiding suksesvol beoefen, sowel as dr. Ademir Calegari, ‘n internasional erkende Brasiliaanse dekgewasspesialis.
“Indien jy nie die konferensie kan bywoon nie, kan jy ook aanlyn vir net R500 inskakel. Die aanlyn konferensie sluit nie die stroming van die plaasbesoekpunte in nie.
“Die Reitz-konferensie vind op 7 en 8 Maart 2022 by die Reitz-skouterrein plaas. Koste is R1 200 per persoon. Die bedrag sluit alle etes in. Belangstellendes wat vroeg reeds hul kaartjies bespreek, kom in aanmerking vir afslag.
"Die Ottosdal-konferensie vind op 10 Maart 2022 by die Ottosdal-skouterrein teen R500 per persoon (sluit middagete en ’n braaipak vir die aand in) plaas."
Kaartjies vir die verskeie konferensies, insluitend kaartjies vir aanlyn-bywoning, is op Quicket by https://qkt.io/Reitz en https://qkt.io/Ottosdal beskikbaar.
OFM-nuus
