Agriculture
Wenke vir voornemende sojaboonplanters─── ELSABÉ RICHARD 05:30 Thu, 24 Feb 2022
Wessel van Wyk, ‘n sojaboonkundige, deel met OFM-nuus ‘n paar riglyne vir produsente wat vir die eerste keer sojabone gaan plant.
Grond
Van Wyk sê voornemende sojaboonprodusente moet veral versuipkolle en klipperige grond vermy wanneer hulle hierdie gewas wil aanplant. Indien daar verdigtingslae voorkom, kan produsente dit met ‘n grondbreker regstel.
Produsente kan ook grondmonsterontledings doen, sowel as die grond se PH-vlak regstel met kalktoedienings.
Produsente moet ook in ag neem dat indien kalk benodig word, moet dit reeds ‘n jaar voordat sojabone geplant word, in die land toegedien word.
Daar moet ook seker gemaak word dat ou onkruiddoders vanaf die vorige jaar se gewasse nie oorgedra word nie.
Bemesting
Van Wyk deel dat sojabone baie goed reageer op residuele grondvrugbaarheid. Hy sê dit was in die verlede standaardpraktyk om die mielies voor sojabone beter te bemes sodat daar genoeg voedingstowwe is vir sojabone die volgende jaar. Dus is sojabone sonder kunsmis geplant.
Sojabone is ook in staat om, deur middel van simbiose met Rhizobium-bakterieë, selfversorgend te wees ten opsigte van stikstofbehoefte.
Kultivars en volwassenheidsgroepe
Volgens Van Wyk word alle kultivars in volwassenheidsgroepe ingedeel wat dui op die tydperk vanaf die plant van die kultivar tot wanneer dit geoes word.
Dertien hoofkultivargroepe bestaan tans, wat wissel tussen 000, 00, 0 en 1 tot 10. Van Wyk verduidelik dat “die kleiner nommers gewoonlik die kortseisoen groeiers is en in koeler lande nader aan die Pole aangeplant word. Die groter nommers van 7 tot 10, is lang seisoen groeiers en word in die warm gebiede naby die ewenaar aangeplant.”
Elk van die hoofgroepe word deesdae ook in tien sub-groepe verdeel.
In Suid-Afrika word daar vier groepe aangeplant, naamlik groep 4, 5, 6 en 7. Groep 4 en 5 word in die koeler gebiede van die land aangeplant, terwyl 5 en 6 in die matige gebiede aangeplant word. Groepe 6 en 7 word in die warmer gebiede aangeplant.
Produsente word aangeraai om verkieslik meer as een groep aan te plant om risiko’s soos hael, droogte en peste te verlaag.
Luister na die volledige onderhoud hier:
OFM-nuus
