On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Agriculture

Produsente moet loonopgawes by Vergoedingsfonds verklaar

───   ELSABÉ RICHARD 05:30 Tue, 01 Mar 2022

Produsente moet loonopgawes by Vergoedingsfonds verklaar | News Article

Produsente staar ‘n 10%-boete in die gesig indien loonopgawes nie betyds by die Vergoedingsfonds ingedien word nie.

Om meer hieroor uit te vind gesels OFM-nuus se Elsabé Richard weer met Stephan Pietersen, stigter van Work Accident Support.

Sien onderstaande PODCAST


Wat behels die loonopgawe?

Dit is waar die produsent moet verklaar wat die lone is wat uitbetaal is aan werkers vir ‘n spesifieke jaar vanaf Maart tot Februarie. Huidiglik praat ons van 1 Maart 2021 tot 28 Februarie 2022 - wat die 2021 loonopgawe is.

Soos jy kan sien is dit nie ‘n kalenderjaar nie, maar wel gebaseer op die Vergoedingsfonds se finansiële jaar.  

Loonopgawes moet elektronies verklaar word. In die verlede het die Vergoedingsfonds die vorm vir voltooiing aan die produsent gepos.  

Loonopgawes bestaan uit twee bedrae:  eerstens waar ‘n produsent bevestig wat die lone tot 28 Februarie 2022 was, en tweedens ‘n vooruitskatting van die lone wat uitbetaal sal word vanaf 1 Maart 2022 tot 28 Februarie 2023.

Hierdie syfers sal deel wees van die rekening wat die Vergoedingsfonds gaan gebruik om die produsent se rekening te bepaal. Ook baie balangrik om te onthou is dat die lone slegs verklaar moet word tot ‘n sekere kerf.

Die kerf vanaf 1 Maart 2021 tot 28 Februarie 2022 is R42 206 per maand. Dit beteken dat enigiemand wat meer as R42 206 per maand ontvang, nie sy salaris hoef te verklaar nie, maar wel die bedrag.


Is dit slegs die werkers se lone wat verklaar moet word? Wat van die direkteure of die eienaar van die boerdery?

Grotendeels sluit dit slegs werkers in, en natuurlik ook seisoenale werkers, maar as die boerdery as ‘n private maatskappy gestig is en daar is werkende direkteure wat ‘n salaris verdien, moet hulle salarisse ook verklaar word.

As die boerdery as ‘n eenmansaak geregistreer is en werkers het aan wie lone uitbetaal word, dan word die eienaar nie geag as ‘n werker nie.


Watter ander aspekte word ook na gekyk wanneer die loonopgawe-berekening gedoen word?

‘n Paar weke gelede het ons gepraat oor die verskillende sub-klasse van die landboubedryf onder die Wet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en Siektes. Elke sub-klas gaan gepaard met ‘n tarief en daardie tarief word ook gebruik tesame met die lone om die berekening te doen.


Wanneer is die sperdatum vir die voltooiing van die loonopgawe?

Produsente sal toegang kry tot die stelsel vanaf die 1ste April tot die 31ste Mei. Sodra die loonopgawe verklaar is, sal die bedrag betaalbaar onmiddelik verskyn. Hierdie bedrag is binne 30 dae betaalbaar.


Wat gebeur as die lone nie verklaar word nie?

Die produsent sal 10% beboet word op die rekening van 2021. Soos ek gemeld het moet die finale syfers vir die lone verklaar word asook die voorlopige syfers vir 2022.


Wat gebeur as die produsent nie die rekening binne 30 dae betaal nie?

‘n Addisionele boete van 10% sal uitgereik word gebaseer op die volle aanslagbedrag en nie ‘n sekere gedeelte van die berekening nie, wat natuurlik ‘n groot bedrag kan wees.


Wat gebeur as ‘n produsent miskien nie die volle bedrag kan betaal nie?

Die produsent het ‘n opsie om die rekening af te betaal oor ‘n paar maande, mits ‘n 20%-deposito op die uitstaande bedrag betaal word, en die balans in maandelikse paaiemente.

Die reëling vir die afbetaling moet geskied voor die sperdatum om enige boetes te vermy. Sodra die bedrag betaal is, sal die Vergoedingsfonds ‘n brief van goeie stand uitreik.

Indien jy enige vrae het of meer oor hierdie onderwerp wil weet, kontak Pietersen by 064 360 2638 of stuur ‘n epos na support@workaccident.co.za. Besoek www.workaccident.co.za vir meer inligting.



OFM-nuus


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.