Agriculture
Agri-Uur: Jongste Safex-nuus─── 05:00 Tue, 01 Mar 2022
Hierdie verslag word deur Graan SA (GSA) verskaf.
Mielies:
Die CBOT-mieliekontrakprys vir die naaste handelsmaand het Maandagoggend sterk gedaal met 'n 5,1%-afname. Markdeelnemers sit op die punt van hul stoele met afwagting van wat met uitvoer uit Rusland kan gebeur. Wisselvallige markte op kort termyn kan die gevolg wees van die onsekerheid van huidige gebeure in die Oekraïne.
Die plaaslike SAFEX-mieliekontrakte het Maandagoggend met 'n algemene sterk afwaartse neiging vir beide wit- en geelmielies verhandel. Die witmieliemark het, vir lewering in Julie 2022, R65/ton (- 1,72%) laer verhandel en teen R3 705/ton gesluit. Die geelmieliemark het vir lewering in Julie 2022, R46/ton (- 1,17%) laer verhandel en teen R3 870/ton gesluit.
Die Nasionale Oesskattingskomitee het Maandagmiddag hul eerste produksieskatting vir die 2022/23 bemarkingseisoen bekendgemaak. Voorspellings was dat die verslag 'n verminderde mielie-aangeplante oppervlakte sal aandui.
Sojaboon:
Die CBOT-sojabonekontrakprys vir die naaste handelsmaand het Maandagoggend afwaarts verhandel met 'n prysdaling van 4,3%. Markdeelnemers hou steeds die produksietoestande in Suid-Brasilië en Argentinië fyn dop.
Die binnelandse sojaboonkontrakte het Maandagoggend aansienlik sterker in die groen verhandel. Die plaaslike sojaboonmark het vir lewering in Mei 2022 met R112/ton (+ 1,22%) hoër verhandel om uiteindelik te sluit op R9 294/ton.
Die Nasionale Oesskattingskomitee hul eerste produksieskatting vir die 2022/23 bemarkingseisoen bekendgemaak. Voorspellings was dat die verslag 'n verhoogde sojaboon aangeplante oppervlakte sal aandui.
Koring:
Die CBOT-koringkontrakprys vir die naaste handelsmaand het Maandagoggend met 'n aansienlike 9% gedaal.
Wêreldwye koringvoorrade word bedreig met die huidige konflik tussen Rusland en die Oekraïne. Albei lande is van die grootste uitvoerders van koring. Aanbodbedreigings kan aandrywers van bullish marksentiment wees.
Die binnelandse koringkontrakte het Maandagoggend in die groen verhandel vir meeste van die naaste kontrakmaande. Die plaaslike koringmark het vir lewering in Mei 2022 met R103/ton (+ 1,62%) hoër verhandel om uiteindelik te sluit op R6 436/ton.
Koringkontrakpryse het verlede week Donderdag skerp gestyg toe die nuus van die konflik tussen Rusland en die Oekraïne gebreek het. Huidige kontrakpryse verhandel steeds op die bullish tendens, bo die R6 000/ton-kerf.
Vir meer inligting oor die huidige kommoditeitsmark, besoek gerus Graan SA se webtuiste.
OFM-nuus
