Agriculture
Agri-Uur: Jongste Safex-nuus─── 05:00 Tue, 08 Mar 2022
Hierdie verslag word deur Graan SA (GSA) verskaf.
Mielies:
Die Amerikaanse mark het sterk verhandel Vrydag met al die gelyste kontrakte wat in die groen verhandel het. Met die plantseisoen wat vir die Amerikaners nader kruip, gaan dit moeilik wees om oeste baie te vergroot weens toenemende insetkostes.
Verdere ondersteuning vir die mark het in die vorm van ‘n Rosario Grains Exchange verslag gekom wat die Argentynse oesverwagtinge verlaag het. Daar sal ‘n moontlike gestoei wees tussen mielie en sonneblom hektare, aangeplant weens die verskil in insetkoste van die twee kommoditeite.
Plaaslik: Die plaaslike mieliemark pryse het Maandag sterk verhandel met meeste van die kontrakte wat teen limiete verhandel het.
Die witmieliekontrak het vir Maart R187/ton sterker verhandel vir die dag om teen R4 110/ton te sluit. Witmielies vir lewering in Julie het R130/ton sterker verhandel teen R4 040/ton.
Die geelmieliekontrak vir Maart 2022 het R172/ton sterker verhandel teen R4 268/ton. Die geelmieliekontrak het vir lewering in Julie R130/ton sterker verhandel om teen R4 209/ton te sluit.
Sojabone:
Die Amerikaanse sojaboonmark het swakker verhandel in die vorige verhandelingsessie met meeste van die gelyste kontrakte wat in die rooi gesluit het. Reën oor Suid Amerika het vrese oor sojaboonproduksie in toom gehou.
Amerikaanse produsente is tans besig om pryse vas te maak vir die komende oes wat nog nie eens geplant is nie weens die huidige sterk pryse en groot onsekerheid oor die seisoen. Die Amerikaanse plantseisoen sal ‘n groot invloed hê op internasionale pryse omdat hulle die tekort van die Suid-Amerikaanse produksie kan aanvul.
Argentinië is die wêreld se voorste soja-olie en -meel produseerder
Plaaslik: Die plaaslike sojaboonmark het ook goed presteer met pryse wat op gemaklike vlakke lê.
Die sojaboon Maart ’22-kontrak het R156/ton sterker verhandel teen R9 450/ton. Die sojaboon Mei ’22-kontrak het R156/ton sterker verhandel teen R9 395/ton. Die sojaboon Julie ’22-kontrak het teen R9 502/ton, R159/ton sterker, verhandel.
Koring:
Die Amerikaanse mark het sy sterk vertoning voortgesit en 46% hoër geëindig vir die week weens koringuitvoer vanaf die Swartsee-area wat tans heeltemal gestop is. Die Chicago Red Winter koringkontrak het Vrydag rekords opgestel deur 30% te styg in een week.
Sommige Amerikaanse silo's het verhandeling heeltemal gestaak omdat pryse van so aard is dat dit glad nie die fisiese mark baat op enige manier nie.
Koringpryse is tans op die hoogste vlak sedert 2008.
Plaaslik: Plaaslik presteer koring steeds goed na aanleiding van die sterk Amerikaanse mark.
Die koring Maart '22-kontrak het teen R7 296/ton verhandel, R157/ton hoër. Die koring Mei ’22-kontrak het teen R7 249/ton verhandel, R113/ton hoër.
OFM-nuus
