Agriculture
Tekort aan entstowwe vir dieresiektes op hoogste vlak bespreek─── 05:30 Wed, 09 Mar 2022
Die nasionale dieregesondheidsforum het met Minister van Landbou, Thoko Didiza, vergader oor die beskikbaarheid van entstowwe wat deur Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) vervaardig word.
Die forum het vir die minister gesê dat die beskikbaarheid van entstowwe wat deur OBP vervaardig word, ‘n risiko vir nasionale kudde geraak het en dit kan die nasionale kudde-immuniteit in gevaar stel.
Sien onderstaande PODCAST
Die Rooivleisprodusente-organisasie berig in sy Maart nuusbrief dat die nasionale dieregesondheidsforum van mening is dat die deurlopende beskikbaarheid van entstowwe dringende aandag moet geniet.
Dit is nie net voedselsekerheid en inkomstesekerheid wat hier op die spel is nie, maar zoönotiese siektes is ‘n ernstige bedreiging weens die gebrek aan beskikbaarheid van OBP-entstowwe. Die forum het ook sy kommer uitgespreek oor die bedrag van R500 miljoen wat geoormerk is vir opgraderings by OBP en gevra dat hulle op hoogte gehou sal word van vordering in dié verband. Die omset van menslike hulpbronne by OBP is ook ‘n bron van kommer. Die nasionale dieregesondheidsforum is verder bekommerd oor OBP se sterk uitvoer-gerigte fokus en voel daar behoort ‘n balans te wees tussen uitvoer en die produksie van entstowwe vir die plaaslike mark.
‘n Ander bekommernis vir die forum is die feit dat daar nie net op OBP staatgemaak kan word wanneer dit kom by die voorsiening van sekere strategiese entstowwe nie en dat private ondernemings ‘n groter rol moet speel om die risiko te verklein.
Aanbevelings wat in terme van die beskikbaarheid van entstowwe by OBP gemaak is, is dat die registrasie van entstowwe wat reeds aan Wet 36 voldoen, versnel moet word. Die bedryf moet ook na die gapingsanalise kyk en dit in ag neem. Die forum het voorgestel dat noodregistrasies ingevolge Wet 101, Wet 36 en Wet 35 oorweeg behoort te word. Verder is die deling van intellektuele eiendom in nasionale belang en dit moet dringend ondersoek word.
Minister Didiza het erken daar is uitdagings en onderneem om dit op die kort-, medium- en lang termyn kollektief aan te spreek. Op die kort termyn, het die nasionale dieregesondheidsforum ‘n werkgroep saamgestel wat binnekort met die direkteur-generaal van die departement in gesprek sal tree. Die kollektiewe mening is dat die risiko in terme van die nie-beskikbaarheid van entstowwe beperk moet word en daarom moet daar gefokus word op die voorstelle wat insake die beskikbaarheid van produkte gemaak is. Dit sluit in die noodregistrasie van entstowwe, die beskikbaarstelling van intellektuele eiendom en om private ondernemings te betrek by die behaling van die mikpunte.
