Agriculture
Landbounuus-podcast: Maatreëls in plek teen bek-en-klouseer in Noordwes─── ELSABÉ RICHARD 14:16 Wed, 23 Mar 2022
Maatreëls is in plek gestel om te verhoed dat bek-en-klouseer verder in Noordwes en na ander provinsies versprei.
Dit is volgens Naudé Pienaar van Agri Noordwes, nadat die Nasionale Departement van Landbou aangekondig het dat die virus ook nou in dié provinsie bevestig is. Volgens die departement is die plaas en ander verwante plase onder kwarantyn geplaas terwyl verdere toesig in die gebied gedoen word om die omvang van die uitbraak vas te stel. Pienaar sê die virus is in die Potchefstroom-omgewing aangemeld. Hy sê 'n vergadering tussen belangrike rolspelers is beplan. Pienaar voeg by dat as die virus verder sou versprei, dit rampspoedige gevolge inhou vir die lewendehawebedryf. Verder is 'n uitbreking van bek-en-klouseer ook in die Collins Chabane-munisipaliteit in Limpopo opgespoor. Die departement sê die virus is op twee plekke in die voormalige bek-en-klouseervrye sone in Limpopo opgespoor. Benewens die uitbreking in Limpopo en Noordwes, gaan die bek-en-klouseer-uitbraak in KwaZulu-Natal steeds voort en die inentingsveldtog het begin. Die departement sê twee nuwe geaffekteerde liggings is geïdentifiseer in hierdie provinsie.
Intussen het die Noord-Kaapse departement van landbou kennis geneem van die gerapporteerde uitbreking van bek-en-klouseer in Noordwes, en het die departement reeds noodvergaderings belê om volgens protokol te reageer. Die departement sê in 'n verklaring veeartsenykundige beamptes is op bystand en sal onmiddellik toesig verhoog, veral by hoërisiko-veefasiliteite in die provinsie. Boere word versoek om enige verdagte simptome onder vee by die naaste Staatsveeartsenykantoor aan te meld. Vee-eienaars word verder daaraan herinner dat bek-en-klouseer oorgedra word deur beeste van besmette persele na onbesmette terreine te verskuif. Daarom doen die departement 'n beroep op alle eienaars om nie diere te skuif as daar 'n vermoede van dié siekte is nie.
EN
Ná die afgelope tyd se reën wat in dele van Suid-Afrika voorgekom het, is damme heelwat vol. Rossouw Botes, DA-raadslid in die Manaung Metro, sê 14 van die 20 damme wat daagliks gemonitor word is reeds 100% en meer vol. Botes waarsku egter dat boere wie se besproeiingstoerusting, vee en ander items langs rivierwalle is, moet versigtig wees aangesien oorvol damme wat oorvloei skade kan veroorsaak.
OFM-nuus
