Agriculture
Agri-Uur: Jongste Safex-nuus─── 05:00 Thu, 24 Mar 2022
Hierdie verslag word deur Graan SA (GSA) verskaf.
Mielies:
Die Amerikaanse mark het baie lae wisselvalligheid gehad in die vorige verhandelingsessie. Pryse het gemeng gesluit met die naby maande wat effens laer verhandel weens winsneming en die verdere maande, wat insluit Julie, September en Desember, wat hoër verhandel.
Weens ‘n historiese droogte, is Turkye die afgelope paar maande ‘n baie aktiewe koper in die mark ondanks hoë pryse. Dit benadruk die erns van die huidige tekorte wat hulle ervaar.
Plaaslik: Die plaaslike mieliemark pryse het tussen 0,2% en 1,42% gestyg. Dit is in lyn met die Amerikaanse mark van Dinsdagaand. Beide wit- en geelmielies het goed presteer met al die gelyste kontrakte wat in die groen verhandel het.
Die witmieliekontrak het vir Maart R46/ton sterker verhandel vir die dag om teen R4 094/ton te sluit. Witmielies vir lewering in Julie het R51/ton sterker verhandel teen R4 175/ton.
Die geelmieliekontrak vir Maart 2022 het R32/ton sterker verhandel teen R4 310/ton. Die geelmieliekontrak het vir lewering in Julie R34/ton sterker verhandel om teen R4 367/ton te sluit.
Sojabone:
Die Amerikaanse sojaboonmark het nog ‘n positiewe dag getoon, maar pryse was redelik stabiel. Pryse het met 0,4% gestyg en beweeg stadig nader aan die $17/skepel merk.
Pryse vind ondersteuning vanaf uitvoer optimisme vanaf Amerika weens duur Suid-Amerikaanse sojabone. Die kleiner produksie in Suid-Amerika is steeds ‘n verdere faktor wat pryse beïnvloed.
Plaaslik: Die plaaslike sojaboonmark het baie klein wisselvalligheid getoon en het gemeng gesluit. Die nader maand kontrakte het effens verswak met die verder maand kontrakte wat in die groen gesluit het.
Die sojaboon Maart ’22-kontrak het 16/ton swakker verhandel teen R9 700/ton. Die sojaboon Mei ’22-kontrak het R23/ton swakker verhandel teen R9 070/ton. Die sojaboon Julie ’22-kontrak het teen R9 165/ton, R30/ton sterker, verhandel.
Koring:
Relatief gesproke het die Amerikaanse koringmark ‘n relatiewe stil dag gehad met lae wisselvalligheid. Pryse het tussen 0,5% en 1,25% gestyg met uitvoer wat steeds nie moontlik is vanaf die Swartsee-area nie.
Europese koringuitvoer is effens laer as die vorige seisoen. Daar is dele in die Oekraïne wat wel kon koring saai en is van plan om mielies ook te plant om die verliese wat deur die oorlog veroorsaak gaan word te verminder. Internasionale tenders verhoog soos lande alternatiewe soek vir die Swartsee-area.
Plaaslik: Die plaaslike koringmark het ook baie min wisselvalligheid getoon. Buiten vir een, het al die kontrakte winste getoon, maar die winste was baie marginaal.
Die koring Maart '22-kontrak het teen R6 980/ton verhandel, R12/ton hoër. Die koring Mei ’22-kontrak het teen R6 920/ton verhandel, R8/ton hoër.
