Agriculture
Agri-Uur: Jongste Safex-nuus─── 05:00 Tue, 29 Mar 2022
Hierdie verslag word deur Graan SA (GSA) verskaf.
Mielies:
Die CBOT-mieliekontrakprys vir die naaste handelsmaand het met 0,8% gestyg.
Die Oekraïne het mielies en sonneblomolie verwyder van die lys produkte wat hulle 'n maand gelede aanvanklik vir uitvoer verbied het. Amerikaanse beleggers het langkontrakposisies 'n hupstoot gegee en tot 'n hoogtepunt van 49 weke bereik.
Donderdag sal die USDA die voornemende aanplantings vir die vinnig naderende seisoen vrystel. Die Oekraïne het begin plant vir die lente plantsessie. Altesaam 149 734 hektaar is tot dusver geplant. Die verwagting is dat die Oekraïne hierdie seisoen tot die helfte van sy aangeplante oppervlakte gaan verloor weens die voortslepende oorlog.
Die plaaslike SAFEX-mieliekontrakte het effens afwaarts verhandel. Die witmieliemark het, vir lewering in Julie 2022, R7/ton (- 0,17%) gedaal om teen R4 051/ton te sluit. Die geelmieliemark het vir lewering in Julie 2022, R5/ton (- 0,12%) laer verhandel en teen R4 239/ton gesluit.
Sojaboon:
Die CBOT-sojaboonkontrakprys vir die naaste handelsmaand het met 0,6% gestyg.
In die VSA het private uitvoerders 'n verkoop van 133 355 ton sojabone aangekondig wat gedurende die 2021/22-bemarkingsjaar aan China gelewer sal word.
Die binnelandse sojaboonkontrakte het afwaarts verhandel. Die plaaslike sojaboonmark het vir lewering in Mei 2022 met R62/ton (- 0,7%) laer verhandel om uiteindelik te sluit op R8 780/ton.
Koring:
Die CBOT-koringkontrakprys vir die naaste handelsmaand het met 1,5% gestyg.
Russiese uitvoerbelasting op beide koring en mielies styg steeds. Frankryk, Europa se voorste koringprodusent, het berig dat meer as 92% van hul sagte koringoes in uitstekende tot goeie toestande is. Sommige van die koringproduserende gebiede in die VSA ervaar 'n mate van droogte. Die gebiede wat die meeste geraak word, is die Noordelike Vlaktes en die Midde-Weste.
Die binnelandse koringkontrakte het effens opwaarts verhandel. Die plaaslike koringmark het vir lewering in Mei 2022 met R19/ton (+ 0,28%) hoër verhandel om uiteindelik te sluit op R6 915/ton.
Vir meer inligting oor die huidige kommoditeitsmark, besoek gerus Graan SA se webtuiste.
