Agriculture
Agri-Uur: Jongste Safex-nuus─── 05:00 Fri, 22 Apr 2022
Hierdie verslag word deur Graan SA (GSA) verskaf.
Mielies:
Die Amerikaanse mark het goed presteer in Woensdagaand se verhandelingsessie. Pryse het ondersteuning gevind en met 1,25% hoër verhandel na ‘n rondte tegniese aankope wat gedryf is deur algemene uitvoeroptimisme en reën in Amerika, wat die plantproses kan vertraag.
Etanolproduksie is op die laagste vlak sedert September 2021, etanolvoorraad het met 2% gedaal en is op die laagste vlak in die afgelope drie maande.
Kenners reken daar is ‘n moontlikheid dat China sy rekord-oes van die vorige seisoen kan verbeter in die 2022/23-seisoen indien goeie toestande voortduur.
Plaaslik: Die plaaslike mieliemark het goed presteer in Donderdag se verhandelingsessie. Al die gelyste kontrakte het in die groen gesluit vir beide wit- en geelmielies. Prysverhogings het gewissel tussen 0,7% en 1,7%. Die verskil tussen wit- en geelmielies is tans R126.
Die witmieliekontrak het vir April R44/ton sterker verhandel vir die dag om teen R4 282/ton te sluit. Witmielies vir lewering in Julie het R38/ton sterker verhandel teen R4 310/ton.
Die geelmieliekontrak vir April 2022 het R68/ton hoër verhandel teen R4 408/ton. Die geelmieliekontrak het vir lewering in Julie R61/ton sterker verhandel om teen R4 461/ton te sluit.
Sojabone:
Die Amerikaanse sojaboonmark het ook goed presteer na ‘n rondte tegniese aankope wat gedryf is deur laer sojaboon-voorraad, algemene uitvoeroptimisme en ‘n stadige begin tot die 2022-aanplantingseisoen
Pryse het met 1,75% versterk. Ondanks ‘n swak oes in Brasilië, gaan sojameel uitvoer ‘n rekordvlak van 18,3 miljoen ton bereik. China verwag dat sy sojaboonoes met 26% gaan vergroot om sodoende kleiner hoeveelhede oliesaad in te voer.
Plaaslik: Die plaaslike sojaboonmark het goed presteer in Donderdag se verhandelingsessie. Meeste kontrakte het in die groen verhandel teen sluitingstyd, met pryse wat tussen 1,4% en 1,8% verhoog het. Die swakker wisselkoers het pryse verder ondersteun.
Die sojaboon April ’22-kontrak het 160/ton sterker verhandel teen R9 463/ton. Die sojaboon Mei ’22-kontrak het R152/ton sterker verhandel teen R9 450/ton. Die sojaboon Julie ’22-kontrak het teen R9 560/ton, R158/ton sterker, verhandel.
Koring:
Die Amerikaanse koringmark het gemeng gesluit in die vorige verhandelingsessie. Winter koringkontrakte het vir die tweede sessie in ‘n ry laer verhandel terwyl lente-koring sterker verhandel het na ‘n rondte ligte tegniese aankope.
Kenners reken dat Argentynse produsente minder koring gaan aanplant en oorspronklike hektare geoormerk vir koring, met gars vervang.
Plaaslik: Die plaaslike koringmark het ook presteer na aanleiding van ‘n sterk Amerikaanse mark en ‘n swakker wisselkoers.
Die koring April '22-kontrak het teen R7 205/ton verhandel, R55/ton hoër. Die koring Mei ’22-kontrak het teen R7 205/ton verhandel, R57/ton sterker.
OFM-nuus
