Agriculture
Agri-Uur: Jongste Safex-nuus─── 05:00 Fri, 15 Jul 2022
Hierdie verslag word deur Graan SA (GSA) verskaf.
Mielies:
Die CBOT-mieliekontrakprys vir die naaste handelsmaand het Donderdagoggend met 1,01% gestyg.
Amerikaanse mieliekontrakpryse het weer 'n mate van ondersteuning gevind in die warm en droë weervoorspellings ná Woensdag se lomp WASDE-verslag.
Die plaaslike SAFEX-mieliekontrakte het Donderdag effens opwaarts verhandel vir beide wit- en geelmieliekontrakte. Die witmieliemark het, vir lewering in Julie 2022, R29/ton (+ 0,67%) geklim om teen R4 343/ton te sluit. Die geelmieliemark het vir lewering in Julie 2022, R24/ton (+ 0,57%) hoër verhandel om teen R4 265/ton te sluit.
Vir die week wat op 8 Julie geëindig het, is 'n totaal van 975 853 ton mielies aan kommersiële silo's gelewer. Daarvan was 442 289 ton witmielies en 533 564 ton geelmielies. In vergelyking met die oesskatting vir die 2022/23 bemarkingsjaar is 30% witmielies gelewer en 46% geelmielies. Die graderingstoestande van witmielies is kommerwekkend en staan op 74% WM1, 21% WM2 en 5% WM3.
Sojaboon:
Die CBOT-sojaboonkontrakprys vir die naaste kontrakmaand het Donderdagoggend met 0,28% gedaal.
Argentynse graan en oliesade verkope en uitvoer is gestuit deur 'n landwye staking. China se Junie-sojabooninvoer het maand-tot-maand met 23% gedaal.
Die binnelandse sojaboonkontrakte het Donderdagoggend met gemengde tendense verhandel. Die plaaslike sojaboonmark het vir lewering in Julie 2022 met R58/ton (- 0,70%) laer verhandel om uiteindelik te sluit op R8 195/ton.
Produsentelewerings vir die week wat op 8 Julie geëindig het, het 9 136 ton beloop. Die kumulatiewe totaal van sojaboonlewerings staan op 2 075 787 ton. Dit maak 99,3% uit van die huidige oesskatting van 2 091 350 ton.
Koring:
Die CBOT-koringkontrakprys vir die naaste handelsmaand het Donderdagoggend 0,4% laer verhandel.
Amerikaanse koringpryse was op 'n weeklange afwaartse neiging. Frankryk se sagte winterkoringproduksie sal na raming met meer as 7% afneem, deels as gevolg van 'n kleiner aangeplante oppervlakte. Frankryk is Europa se grootste koringprodusent.
Die binnelandse koringkontrakte het Donderdag effens gemeng verhandel. Die plaaslike koringmark het vir lewering in Julie 2022 met R43/ton (+ 0,56%) hoër verhandel om uiteindelik te sluit op R7 700/ton. Die Desember 2022 koringkontrak het met R17/ton (- 0,24%) laer verhandel om uiteindelik te sluit op R7 192/ton.
Vir die week wat op 8 Julie geëindig het, is altesaam 927 ton koring aan kommersiële silo's gelewer. Die kumulatiewe totaal vir die 2021/22 bemarkingseisoen is 2 227 437 ton.
Vir meer inligting oor die huidige kommoditeitsmark, besoek gerus Graan SA se webtuiste.
OFM-nuus
