Agriculture
Agri-Uur: Jongste Safex-nuus─── 05:00 Thu, 11 Aug 2022
Hierdie verslag word deur Graan SA (GSA) verskaf.
Mielies:
Die CBOT-mieliekontrakprys vir die naaste handelsmaand het Woensdagoggend met 0,85% gestyg.
Op die korttermyn is Amerikaanse weernuus en die Oekraïense uitvoer wysigers van prysbewegings. Op die langer termyn verswak warm weer die EU-opbrengsvooruitsigte, asook die globale aanbodvooruitsigte. Amerikaanse opbrengste bly 'n uitkykpunt.
Die plaaslike SAFEX-mieliekontrakte het Woensdag effens opwaarts verhandel vir beide wit- en geelmieliekontrakte. Die witmieliemark het, vir lewering in Augustus 2022, R27/ton (+ 0,65%) geklim om teen R4 205/ton te sluit. Die geelmieliemark het vir lewering in Augustus 2022, R13/ton (+ 0,31%) hoër verhandel om teen R4 180/ton te sluit.
Sojaboon:
Die CBOT-sojaboonkontrakprys vir die naaste kontrakmaand het Woensdagoggend met 4,87% gestyg.
Sojaboonpryse sal op die korttermyn reageer op Amerikaanse weer, aangesien die gewasse kritieke stadiums van ontwikkeling binnegaan. Op die langtermyn sal groot geskatte Suid-Amerikaanse oeste waarskynlik swaar op die mark inweeg. Die VSA sojaboonoes is effens afgegradeer in die jongste verslag. Tans is 59% van die oes in 'n goeie-tot-uitstekende toestand, en 30% in 'n redelike toestand. Hierdie graderings is vergelykbaar met die vorige seisoene se graderings.
Die binnelandse sojaboonkontrakte het Woensdagoggend met effens opwaartse tendense verhandel. Die plaaslike sojaboonmark het vir lewering in Augustus 2022 met R73/ton (+ 0,84%) hoër verhandel om uiteindelik te sluit op R8 800/ton.
Koring:
Die CBOT-koringkontrakprys vir die naaste handelsmaand het Woensdagoggend 0,75% hoër verhandel.
Korttermyn-pryswisselvalligheid duur voort namate graan die Oekraïense hawens per skip verlaat en oesprosesse vorder. Langtermyn, droë en warm weer bly 'n uitkykpunt vir die 2022-koringoes en sterk vraag bly pryse ondersteun.
Warm en droë toestande word veral in die EU (Frankryk, Spanje en Portugal) ervaar, asook dele van Kanada en die VSA. Die Amerikaanse winterkoring word 86% geoes, terwyl die lentekoringoes hierdie week afgegradeer is. Die afgradering was slegs marginaal van 70% goed-tot-uitstekend tot 64% goed-tot-uitstekend.
Die binnelandse koringkontrakte het Woensdag met effens opwaartse tendense verhandel. Die plaaslike koringmark het vir lewering in Augustus 2022 onveranderd verhandel op R7 058/ton. Die Desember 2022 koringkontrak het met R27/ton (+ 0,40%) hoër verhandel om uiteindelik te sluit op R6 837/ton.
Vir meer inligting oor die huidige kommoditeitsmark, besoek gerus Graan SA se webtuiste.
