Agriculture
Agri-Uur: Jongste Safex-nuus─── 05:00 Mon, 05 Sep 2022
Hierdie verslag word deur Graan SA (GSA) verskaf.
Mielies:
Die CBOT-mieliekontrakprys vir die naaste handelsmaand het Vrydagoggend 2,29% laer verhandel.
Kommer oor 'n moontlike wêreldwye ekonomiese verswakking het 'n wye reeks kommoditeite laer laat verhandel, insluitend mielies.
Die plaaslike SAFEX-mieliekontrakte het Vrydag met effense opwaartse tendense verhandel vir beide wit- en geelmieliekontrakte. Die witmieliemark het, vir lewering in September 2022, R36/ton (+ 0,79%) geklim om teen R4 620/ton te sluit. Die geelmieliemark het vir lewering in September 2022, R37/ton (+ 0,81%) hoër verhandel om teen R4 580/ton te sluit.
Die witmieliemark het, vir lewering in Desember 2022, R50/ton (+ 1,07%) geklim om teen R4 720/ton te sluit. Die geelmieliemark het vir lewering in Desember 2022, R37/ton (+ 0,79%) hoër verhandel om teen R4 700/ton te sluit.
Vir die week geëindig 26 Augustus is 'n totaal van 9 735 ton mielies uitgevoer. Daarvan was 6 446 ton witmielies en 3 289 ton geelmielies. Tans neig kumulatiewe geelmielie-uitvoer bo die vorige seisoene se tempo, sowel as die vyf-jaar gemiddelde pas. Groot witmielie-uitvoerbestemmings, wat meestal lande suid van die Sahara insluit, ervaar laer produksieskattings - wat 'n ondersteunende hand vir plaaslike witmielie-uitvoer kan verleen.
Tans verhandel die nabymaand geelmieliekontrak effens bo die Argentynse uitvoerpariteitsvlak van R4 386/ton, en effens onder die VSA uitvoerpariteitsvlak van R4 982/ton. Die Argentynse invoerpariteitsvlak is tans R6 474/ton en Amerikaanse invoerpariteit is R7 218/ton. Randfontein is as verwysing gebruik.
Sojaboon:
Die CBOT-sojaboonkontrakprys vir die naaste kontrakmaand het Vrydagoggend met 2,31% gedaal.
Kommer oor 'n moontlike wêreldwye ekonomiese verswakking het 'n wye reeks kommoditeite laat laer verhandel, insluitend sojabone. Amerikaanse sojabone kry ook 'n mate van afwaartse druk ná 'n verbetering in oeskwaliteit Maandag.
Die binnelandse sojaboonkontrakte het Vrydagoggend met opwaartse tendense verhandel. Die plaaslike sojaboonmark het vir lewering in September 2022 met R70/ton (+ 0,78%) hoër verhandel om uiteindelik te sluit op R9 015/ton. Die sojaboonmark het vir lewering in Desember 2022, R91/ton (+ 0,99%) hoër verhandel om teen R9 240/ton te sluit.
Tans verhandel die nabymaand sojaboonkontrak onder die Argentynse uitvoerpariteitsvlak van R9 684/ton, en effens onder die VSA uitvoerpariteitsvlak van R10 246/ton. Die Argentynse invoerpariteitsvlak is tans R12 808/ton en Amerikaanse invoerpariteit is R13 356/ton. Randfontein is as verwysing gebruik.
Koring:
Die CBOT-koringkontrakprys vir die naaste handelsmaand het Vrydagoggend 4,5% laer verhandel.
Koringpryse is swaar getref deur groeiende wêreldwye resessievrese, verwagtinge vir 'n massiewe Russiese oes die komende seisoen, oorvloeiswakheid van ander kommoditeite en 'n versterkende Amerikaanse Dollar.
Die binnelandse koringkontrakte het Vrydag met effense afwaartse tendense verhandel. Die plaaslike koringmark het vir lewering in September 2022 met R38/ton (- 0,55%) laer verhandel om uiteindelik te sluit op R6 860/ton. Die Desember 2022 koringkontrak het met R54/ton (- 0,78%) laer verhandel om uiteindelik te sluit op R6 860/ton.
Vir die week geëindig 26 Augustus is 'n totaal van 54 214 ton koring ingevoer, hoofsaaklik uit Australië (23 020 ton) en Litaue (28 661 ton). Die kumulatiewe totaal van koringinvoer vir die 2021/22-bemarkingsjaar beloop 1 454 899 ton.
Koringinvoer is tot dusver baie effens hoër as die vorige seisoentempo van 91% en voor die vyfjaargemiddelde van 77%. Die huidige koringoes, veral die Swartland en Suid-Kaap streek, het 'n groot behoefte aan reënval tydens die kritieke stadiums van gewasontwikkeling.
Tans verhandel die spot koringkontrak laer as die Duitse invoerpariteitsvlak van R7 532/ton. Die Argentynse invoerpariteitsvlak is tans R8 623/ton en Amerikaanse invoerpariteit is R8 536/ton. Durban is as verwysing gebruik.
Vir meer inligting oor die huidige kommoditeitsmark, besoek gerus Graan SA se webtuiste.
