Agriculture
Landbounuus-podcast: Positiewe bek-en-klouseer-gevalle in Hertzogville─── ELSABÉ RICHARD 13:49 Thu, 22 Sep 2022
Hertzogville is die mees onlangse gebied in die Vrystaat waar positiewe bek-en-klouseer-gevalle aangemeld is.
Dit is bykomend tot huidige bek-en-klouseer-uitbrake in Viljoenskroon, Marquard, Bethlehem en Harrismith. OFM-nuus se Elsabé Richard-May berig die Vrystaatse Departement van Landbou sê dié onlangse uitbreking is onder sy aandag gebring ná 'n onsuksesvolle poging van 'n produsent van Hertzogville om deel te neem aan 'n veeveiling wat in Christiana in die Noordwes plaasgevind het. Die landboudepartement voeg intussen by dat die siekte in Viljoenskroon, Marquard en Bethlehem gestabiliseer het, en dat alle aanwysers toon dat die virus nie meer in hierdie drie gebiede sirkuleer nie.
'n 61-jarige man, wat daarvan aangekla word dat hy produsente in Noordwes met R4 miljoen bedrieg het, sal na verwagting weer in November in die hof verskyn. Dit volg nadat Thinus Theunissen vandeesweek in die Potchefstroomse Landdroshof verskyn het nadat hy glo beeste op 'n veiling onder sy naam verkoop het - waar hy na bewering sowat R4 miljoen gemaak het - en nooit die produsente vir hul beeste betaal het nie. Volgens die polisie het Theunissen glo ook beeste by produsente gevat en vals fakture aan hulle uitgereik. Hy staan tereg op tien aanklagte van bedrog.
EN
'n Bekende in die veebedryf, Chris Derksen, verskaf soos oudergewoonte die veilingspryse vir lewendehawe. Hy versprei dié inligting sodat produsente en kopers dieselfde inligting tot hul beskikking het. Derksen sê speenkalwers, onder 200kg, het teen R40,00 per kg verkoop, terwyl speenkalwers tussen 200kg en 250kg, teen R40,00 per kg, en speenkalwers oor 250kg, teen R39,00 per kg verkoop het.
