Agriculture
Agri-Uur: Jongste Safex-nuus─── 05:00 Tue, 27 Sep 2022
FOTO: Photoxpress.
Hierdie verslag word deur Graan SA (GSA) verskaf.
Mielies:
- Die Amerikaanse mieliemarkpryse het gemiddeld tussen 2% en 3% gedaal nadat hoë inflasie, stygende rentekoerse en resessievrese die meeste voorraad- en kommoditeitspryse in die rooi laat verhandel het. Pryse het gedaal ná 'n rondte tegniese verkope met oesdruk wat verder bygedra het tot afwaartse druk.
- Frankryk se 2022 mielie-oes is 26% voltooi op 19 September. Die oes het baie vroeër as normaalweg begin weens warm en droë toestande wat die oes erg beskadig het. Slegs 43% van die oes is in 'n goeie-tot-uitstekende toestand. Produksie kan die kleinste sedert 1990 vir Europa se voorste graanprodusent wees.
- Plaaslik: Plaaslike mieliepryse het gemeng, maar meestal positief gesluit in Maandag se verhandelingsessie. Beide winste en verliese was maar marginaal met pryse wat relatief sywaarts beweeg. Die verswakkende wisselkoers verlig die effekte van die swakker Amerikaanse mark.
- Die witmieliekontrak het vir Oktober R12/ton sterker verhandel vir die dag om teen R4 802/ton te sluit. Witmielies vir lewering in Desember het R13/ton hoër verhandel teen R4 870/ton.
- Die geelmieliekontrak vir Oktober 2022 het R1/ton sterker verhandel teen R4 710/ton. Die geelmieliekontrak het vir lewering in Desember teen R4 800/ton verhandel, R12/ton sterker.
Sojabone:
- Die Amerikaanse sojaboonmark was ook nie immuun teen die ekonomiese smarte van hoë inflasie, stygende rentekoerse en resessievrese nie. Pryse het gemiddeld met 2% gedaal ná 'n rondte tegniese verkope met pryse wat verder onder druk geplaas is deur vraag vrese.
- China sal nog sojabone in staatsbesit verkoop om plaaslike pryse te verlaag en plaaslike aanbod te verhoog.
- Plaaslik: Die plaaslike sojaboonmark het beduidend swakker verhandel weens negatiewe marksentiment. Die verswakkende wisselkoers het verliese in toom gehou. Pryse het tussen 0,6% en 1,1% laer verhandel.
- Die sojaboon Oktober ’22-kontrak het R61/ton swakker verhandel teen R9 245/ton. Die sojaboon Desember ’22-kontrak het R67/ton laer verhandel teen R9 399/ton. Die sojaboon Mei ’23-kontrak het teen R8 710/ton, R98/ton laer, verhandel.
Koring:
- Die Amerikaanse koringmark het 'n wye reeks ander kommoditeite laer gevolg weens groeiende wêreldwye resessievrese, terwyl 'n baie sterk Amerikaanse dollar tans bykomende skade aan pryse aanrig. Onlangse reën in Oekraïne het grondvog op hul beste vlak in 'n dekade gelaat.
- Die Russiese koringoes sal na verwagting steeds hoog wees, maar uitvoer sal waarskynlik aan die laer kant bly.
- Plaaslik: Koringpryse het aan die positiewe kant verhandel met pryse wat tussen 0,4% en 0,7% toegeneem het.
- Die koring Oktober '22-kontrak het teen R6 990/ton verhandel, R30/ton hoër. Die koring Desember ’22-kontrak het teen R7 069/ton verhandel, R52/ton sterker.
