On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Agriculture

Is die meesterplan vir landbou- en landbouverwerking net nóg 'n plan?

───   13:33 Fri, 25 Nov 2022

Sponsored13:33 Fri, 25 Nov 2022
Is die meesterplan vir landbou- en landbouverwerking net nóg 'n plan? | News Article

Volgens Daneel Rossouw, Funksionele Hoof van Landbou by Nedbank se Verhoudingskanale, is stadige groei, toenemende ongelykheid en werkloosheid 'n driedubbele uitdaging vir Suid-Afrika, wat huishoudelike voedselonsekerheid kommerwekkend laat toeneem.

Terselfdertyd het Covid-19, die gevolge van die oorlog in Oekraïne, soos knelpunte in die voorsieningsketting en hoë voedselinflasie, die belangrikheid van voedselsekuriteit op nasionale vlak en die waarde van die landbousektor ten opsigte van die welstand van die nasie beklemtoon.

Daar is 'n breë bewustheid dat die komplekse uitdagings wat die Suid-Afrikaanse ekonomie in die gesig staar, vereis dat ons die vermoëns en verpligtinge van verskeie belanghebbendes inspan, en daarom is die meesterplan vir landbou- en landbouverwerking op 12 Mei 2022, ná twee jaar van streng samewerking en beraadslaging tussen die regering, besighede, die arbeidsektor en burgerlike-samelewingsorganisasies in die landbou- en landbouverwerkingsektore onderteken.

Die meesterplan is die eerste multi-belanghebbende proses en strategiese plan wat kommoditeit-spesifieke teikens vir transformasie, uitvoere, beleggings, en groeikoerse het. Dit sluit 'n lys van geteikende ingrypings in wat in die subsektore van vee, veldgewasse, tuinbou en landbouverwerking nodig is, en plaas ’n groter fokus op boere se infrastruktuur en kommersiële grondhervorming in landelike gebiede om voedselproduksie te verhoog.

Die nege doelwitte van die meesterplan is om:

  1. voedselsekerheid te verhoog;
  2. volhoubare transformasie in die wyer landbousektor te bevorder en te versnel;
  3. toegang tot plaaslike en uitvoermarkte te verbeter;
  4. mededingendheid en entrepreneurskapsgeleenthede deur middel van tegnologiese vindingrykheid te verbeter, innoverende finansieringsmodelle vir swart boere te skep, en infrastruktuurkonstruksie en digitalisering te bevorder;
  5. 'n doeltreffende ondersteuningstelsel vir boere en landbouverwerkingsaansporings te skep;
  6. regverdige, groeiende en inklusiewe indiensneming te bevorder en verbeterde             werksomstandighede en billike lone te verseker;
  7. die veiligheid van die boeregemeenskap te verbeter, vee- en oesdiefstalle en plaasaanvalle te verminder;
  8. 'n bekwame regering en bemagtigende beleidsomgewing te skep; en
  9. veerkragtigheid teen die uitwerking van klimaatsverandering en die volhoubare bestuur van      natuurlike hulpbronne te bevorder.

Daar is ses pilare geïdentifiseer om hierdie doelwitte te bereik:

  1. Die oplossing van beleidsonduidelikhede en die skepping van 'n beleggingsvriendelike omgewing.
  2. Belegging in en instandhouding van infrastruktuur wat krities is vir die bedryf, soos             elektrisiteit, paaie, spoorweë en hawens.
  3. Die verskaffing van omvattende bystand vir boere, ontwikkelingsfinansiering, navorsing en     ontwikkeling en voorligtingsdienste.
  4. Die verbetering van voedselsekerheid, verhoging van produksie en indiensneming, en die versekering van regverdigheid en insluiting.
  5. Die fasilitering van markuitbreiding, die verbetering van marktoegang en die bevordering van       handel.
  6. Die verbetering van plaaslike voedselproduksie, vermindering van invoere en uitbreiding van landbouverwerkingsuitvoere.

As die voorgestelde ingrypings en doelwitte doeltreffend geïmplementeer word, kan die volgende teen 2030 bereik word:

  • R32 biljoen reële groei in landbou bó die sake-soos-gewoonlik-basislyn.
  • Die behoud van 865 000 primêre en 263 000 sekondêre landbouwerksgeleenthede en die skep van 72 000 goeie nuwe werksgeleenthede.
  • Uitbreiding van die kommersiële produksiegebied met 65 000 hektaar saailand, 19 550 hektaar besproeiing en 1,5 miljoen hektaar weiding deur middel van proaktiewe grondverkrygings- en kommersiële plase.
  • Die verbetering van voedselsekerheid en ondersteuning van 303 000 lewens.
  • ’n Verhoging van 20% in die aandeel van swart boere in algehele produksie om betekenisvolle transformasie aan te moedig.

Hoe raak dit die Suid-Afrikaanse landbousektor in 2023 en daarná?

Die Suid-Afrikaanse landbousektor het die afgelope drie jaar te midde van ontwrigtings buitengewone veerkragtigheid getoon. In 2021 het die sektor met 8,3% gegroei, nadat dit reeds in 2020 met 13,4% uitgebrei het, wat dit die bes presterende sektor in die ekonomie sedert die begin van die pandemie maak. Dit is selfs meer merkwaardig aangesien die sektorten spyte van verskeie binnelandse uitdagings soos vinnig verswakkende infrastruktuur, beurtkrag, en onluste en stakings langs groot handelsroetes steeds presteer het. Verdere groei word vir die 2022/2023-seisoen verwag, maar teen 'n stadiger koers van 5% aangesien stygende insetkoste winsvooruitsigte in veldgewasse en diereprodukte teenwerk, en pryse in baie tuinboubedrywe onder verdere druk plaas.

Alhoewel hierdie marktoestande mettertyd sal aanpas, is dit langtermyn strategiese beleidsingryping en -beleggings wat die toekoms van Suid-Afrika se landbouvoedselstelsel sal dryf. Die landbouvoedselstelsel is kompleks en die bydrae van die informele sektor word grootliks onderskat. Ons voedselstelsel vereis 'n holistiese benadering wat diverse waardekettings met 'n wye spektrum van produsente in aanraking plaas. Dié produsente verbind op hul beurt geformaliseerde en gesofistikeerde markte met informele markte. Deel van die meesterplan is om gemengde finansieringsmodelle daar te stel wat kleiner boere kan help om die uitdagings waarmee selfs groter kommersiële boerderye sukkel te oorkom. By Nedbank glo ons dat die ontwikkeling van hierdie klein en opkomende boere van uiterste belang is, nie net vir hul eie sakeveerkragtigheid nie, maar ook om nasionale voedselsekerheid en 'n sterker landbousektor te ondersteun.

Hoewel hierdie plan nie oornag geïmplementeer sal word nie  – inagenome dat verskeie belanghebbendes nog oortuig moet word – verwelkom Nedbank hierdie positiewe stap vir die landbousektor, asook die insluiting van landbouverwerking in die plan. Vir ons is 'n florerende, inklusiewe landbousektor wat werk skep en ’n sterk fokus op transformasie plaas ’n noodsaaklike deel van die langtermyngroei en -sukses van Suid-Afrika. In ’n wêreld waar globalisering tans afneem terwyl nasionalisme toeneem, is dit die eerste van verskeie belangrike stappe wat geneem moet word om nasionale voedselsekerheid in Suid-Afrika te verseker.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.