On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with James
Listen Live Streams

Agriculture

'n Kilogram ‘rooi goud’ sal jou R250 000 kos

───   ELSABÉ RICHARD 08:13 Mon, 06 Feb 2023

'n Kilogram ‘rooi goud’ sal jou R250 000 kos | News Article
FOTO: Saffricon.

Saffraan, ook bekend as rooi goud, is die duurste spesery ter wêreld teen sowat R250 000/kg.

Dié prag-persblommetjies word tussen Williston en Calvinia in die Noord-Kaap deur ‘n passievolle saffraanprodusent, Bennie Engelbrecht, geplant en geoes. 

Die kleinhandelprys van ‘n gram saffraan is sowat R250 en kan tot tien geregte geur.

“Saffraan is ‘n eeue-oue spesery uit die Midde-Ooste. As jy in die Bybel gaan lees, in Hooglied, waar hulle die vrou se lof besing en haar beskryf, word saffraan ook in een van die beskrywings gebruik. 

"So, dit is ‘n verskriklike ou spesery en ek wil sê dis ‘n magiese produk, soos goud en diamante, wat deur die eeue reeds hulle plek op die aarde gekry het,” vertel Engelbrecht.

Die plant is nie flambojant nie aangesien dit slegs 10 tot 15 cm hoog groei, met dun blare. Sy wetenskaplike naam is Crocus sativus L. en word slegs middel April geoes.

“Omdat dit ‘n duur spesery is, dink mense dit moet hierdie verskriklike plant wees, maar dit is ‘n baie eenvoudige plantjie.

Oes

Die oes van saffraan is volgens Engelbrecht redelik arbeidsintensief. Dit word eenkeer ‘n jaar gepluk. Die blommetjie hou slegs vir 24 uur en moet geoes en verwerk word sodra dit uitkom.

“Ons is gewoond in Suid-Afrika, as jy iets plant dan wag jy die hele seisoen … vir jou vrug. Saffraan werk heeltemal [anders]. Sodra jy geplant het, 40 dae later [kan jy die blomme oes].”

Engelbrecht verduidelik nadat die blomme geoes is, hulle na ‘n higiëniese area geneem word waar dit versigtig uitmekaar gehaal word om by die spesery uit te kom.

Dit word daarna vir sowat ‘n minuut tot ‘n minuut en ‘n half in die mikrogolfoond gedroog.
“En dan is dit klaar gedroog. Dis die [einde] van die proses – ‘n baie eenvoudige proses.”

Groeitoestande

Engelbrecht deel dat saffraan beter in sanderige leemgrond groei as in kleigrond. Dit is omdat die bol ondergronds vermeerder en spasie nodig het om verder te ontwikkel.

Saffraan kan in temperature so laag as -15 grade Celsius en so hoog as 45 grade Celsius groei.

“Ek dink [die plant] vaar beter in plekke met ‘n kouer winter, maar in hierdie stadium wys dit vir ons tog dat dit regoor die land groei … Ek dink die volgende twee of drie jaar gaan vir ons defnitief wys in watter dele van die land … [dit] beter gaan aard.”

Iran is die wêreld se grootste saffraanprodusent, met ander lande soos Australië, Nieu-Seeland en Suid-Amerika wat dit ook plant. 

Engelbrecht, wat vir jare deel van die media-industrie was, het eers intensiewe navorsing gedoen voordat hy die eerste safraanbol in die aarde geplaas het. Hy het in 2013 Saffricon gestig met die visie om 'n nuwe geleentheid na die Suid-Afrikaanse mark te bring, en voornemende en bestaande groeiers te ondersteun.

Hy en sy span het eers in Pretoria suksesvol saffraan verbou, voordat produksie in die Williston/Calvinia-omgewing begin is. 

“Ek dink ek werk in hierdie stadium met die Here se mooiste plant. As jy eenkeer ‘n saffraan-blom geruik het, dan dink ek dis baie naby aan hoe die hemel moet ruik. Dit is ‘n absolute wonderlike, wonderlike geur.”

OFM-nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.