On Now
Weekends 16:00 - 20:00
OFM Decades James
NEXT: 20:00 - 23:59 Saturday Nights with OFM
Listen Live Streams

Agriculture

Wat loonopgawes bevat wat by Vergoedingsfonds ingedien moet word

───   ELSABÉ RICHARD 05:00 Mon, 20 Feb 2023

Wat loonopgawes bevat wat by Vergoedingsfonds ingedien moet word | News Article
Photo by Tom Fisk: https://www.pexels.com/photo/top-view-of-green-field-1595104/

Plaaswerkers en -direkteure se lone moet apart by die Vergoedingsfonds verklaar word.

Volgens die stigter van Work Accident Support, Stephan Pietersen, kan boerderye as verskillende entiteite by die Vergoedingsfonds geregistreer word. Opsies sluit in eenmansake, privaatmaatskappye, trusts asook vennootskappe.

Wanneer die boerdery as ‘n eenmansaak geregistreer is, word die eienaar nie gedek deur die Wet op Beroepsbeserings en -siektes nie. Pietersen verduidelik dat produsente as gevolg hiervan nie nodig het om sy lone te verklaar nie. 

LEES OOK: Die eenmansaak-besigheidstruktuur in landbou

“Waar ‘n boerdery geregistreer is as ‘n privaatmaatskappy en waar die direkteure wel ‘n salaris ontvang, moet daardie salaris verklaar word. Die direkteur word wel gedek in terme van die wetgewing.

“Maar waar ‘n direkteur ‘n salaris ontvang slegs uit winsdeling, is dit nie nodig om verklaar te word nie, en natuurlik word daardie direkteure nie gedek in die wet nie.”

Wat werkers betref, sê Pietersen permanente-, tydelike- en seisoenale werkers se lone moet by die fonds verklaar word.

Hy versoek produsente om ten alle tye ook rekord te hou van seisoenale werkers wat aangestel word - ‘n afskrif van die persone se identiteitsdokumente, of enige positiewe identifikasie asook ‘n adres en enige kontakbesonderhede.

LEES OOK: Amper weer tyd vir produsente om lone te verklaar

“Wanneer dié tipe werkers aangestel word, is daar niks wat in daardie stadium gedoen moet nie, maar slegs wanneer die lone die volgende jaar verklaar word, moet hulle lone ingesluit word.

“Maar alle werkers word gedek deur die wet vanaf die dag wat hulle aangestel is.”

Hy waarsku dat landbouers ook versigtig moet wees wanneer hulle seisoenale werkers as kontrakteurs wil aanstel. Dit is omdat daar duidelike beskrywings is in terme van arbeidswetgewing soos die Wet op Basiese Diensvoorwaardes, wat handel oor wie as ‘n werker geag word.

LEES OOK: Nie-nakoming van Vergoedingsfondsregulasies kan tot boetes lei

Wat sluit die lone in wat produsente moet verklaar?

  • Oortyd en kommissie van ‘n gereelde aard en gewoonlik moet die gemiddelde bereken word oor ‘n 12 maande tydperk,
  • Jaarlikse bonusse,
  • Die kontantwaarde van gratis voedsel en huisvesting wat aan ‘n werker verleen word,
  • Die kontantwaarde van onttrekkings vanuit ‘n bankrekening wat aan direkteure betaal word,
  • Die bruto salaris en nie die salaris na alle aftrekkings nie, en
  • Byvoordele soos ‘n maatskappymotor.

Loonopgawes wat ingehandig moet word sluit die volgende uit:

  • Betaling van enige vergoeding aan die werker,
  • Ex gratia betalings soos langdiens toekennings,
  • Die gedeelte van ‘n mediesefonds- of pensioenfondsbetalings wat deur ‘n boerdery vir ‘n werker gemaak word,
  • Verblyf en reis onkoste, en
  • Spesiale onkoste vir voedselvoorsiening.

OFM-nuus





@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.