On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Agriculture

Amper weer tyd vir produsente om lone te verklaar

───   ELSABÉ RICHARD 07:38 Mon, 13 Feb 2023

Amper weer tyd vir produsente om lone te verklaar | News Article
FOTO: Pixabay

Dit is amper daardie tyd van die jaar wat produsente hulle jaarlikse loonopgawes aan die Vergoedingsfonds moet verklaar.

Die fonds gebruik hierdie inligting om te bepaal watter bedrag die produsent moet betaal.

OFM-nuus het met die stigter van Work Accident Support, Stephan Pietersen, hieroor gesels:

Hoekom is dit belangrik dat produsente dié inligting aan die Vergoedingsfonds moet voorsien? En wat is die sperdatum teen wanneer dit voorsien moet word?

Die Vergoedingsfonds verdien sy inkomste deur die geld wat besighede jaarliks betaal. Die inligting op die loonopgawes word gebruik om daardie bedrae te bepaal. Ingevolge die Wet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en –siektes (COID) is die sperdatum Maart elke jaar, maar die Vergoedingskommissaris mag hierdie datum wysig, wat in meeste gevalle gedoen word om besighede genoeg kans te gee om hulle papierwerk agtermekaar te kry. Dit is omdat talle besighede se finansiële jaar einde Februarie is.

Wat produsente wel in dié stadium kan doen, is om hulle rekords na te gaan om te kyk na die lone wat hulle vanaf 1 Maart 2022 tot 28 Februarie 2023 uitbetaal het. Hulle kan dan ook uitwerk wat hulle dink hulle sal uitbetaal vanaf 1 Maart 2023 tot 28 Febrarie 2024, aangesien die versekering vooruit betaalbaar is aan die Vergoedingsfonds.

LEES OOK: Nie-nakoming van Vergoedingsfondsregulasies kan tot boetes lei

Wat is die gevolge indien die lone nie vóór die sperdatum verklaar word nie?

Die Departement van Indiensneming en Arbeid se inspeksie-afdeling het onlangs bevestig dat daar net meer as 71 000 inspeksies uitgevoer is tussen April en Junie 2022.

Gedurende die inspeksies was R74 miljoen ingevorder vanaf besighede in terme van COID-betalings, wat ook boetes insluit. So, dit is noodsaaklik dat produsente die loonopgawes elektronies verklaar om sodoende die boetes te vermy.

Wat ek ook kan byvoeg, is dat daar amper 25 000 produsente is wat wel geregistreer is by die Vergoedingsfonds, maar wat nie hulle jaarlikse loonopgawes inhandig nie. Dit het geweldige finansiële implikasies.

LEES OOK: Korrekte landbou-subklas registrasie belangrik

Wat kan 'n produsent doen indien hy/sy in so ‘n situasie is?

Eerstens, produsente wat wel geregistreer is, maar wat nie meer boer nie, moet skriftelik aansoek doen om die boerdery te deregistreer. Daar is gevalle waar die seun die boerdery oorgeneem het en die boerdery nuut geregistreer het by die fonds, maar die boerdery op die pa se naam is net so laat staan.

Tweedens, waar produsente wel agterstallig is, het hulle 'n opsie om daardie rekening af te betaal. My voorstel sal wees om eers die nuwe loonopgawes te verklaar sodat die reëling ook die huidige bedrag kan insluit.

LEES OOK: Maak seker jou boerdery is onder die regte sub-klas geregistreer

Waarna moet produsente verder op die uitkyk wees?

In terme van die COID-wet is die landbousektor in vier subklasse verdeel, naamlik:

  • Veeboerdery
  • Grondbewerking en bosbou
  • Gemengde boerdery
  • Suiker en teeboerderye

Elke subklas word geassosieer met 'n tarrief. In kort is dit die bedrag wat die produsent betaal vir elke R100 wat in lone aan wekers betaal word. Hierdie tariewe is deur die Vergoedingsfonds in 2020 hersien, en veeboere en boere wat grondbewerking en bosbou doen, se tariewe het ongelukkig verhoog. Wat natuurlik verdere finansiële implikasies inhou.

Gemengde boere en suiker- en tee-boere se tariewe het verminder. Hierdie nuwe tariewe word ingefaseer vanaf 2021 tot 2025 en dit is belangrik dat produsente seker moet maak die tariewe is korrek op hulle rekening soos dit gepubliseer is. Ongelukkig kan foute insluip.

'n Veeboer het byvoorbeeld in 2021 R2,15 betaal vir elke R100 se lone en daardie bedrag het verhoog na R2,27.

LEES OOK: Registrasie van verskillende entiteite by die Vergoedingsfonds

Wat gebeur verder as die produsent sy lone betyds verklaar het?

Die rekening kan onmiddellik besigtig word en is betaalbaar binne 30 dae.

LEES OOK: Vergoeding vir Beroepsbeserings en -siektes: Produsente se verantwoordelikhede

Enige gevolge indien dit nie binne 30 dae betaal word nie?

Ongelukkig sal 'n bykomende boete van 10% op die volle bedrag bereken word. Produsente het wel 'n opsie om die bedrag af te betaal mits hulle die reëling sou tref voor die vervaldatum.

Ek sal ten sterkste aanraai dat produsente hulle loonopgawe so gou moontlik verklaar, en indien nodig, 'n afbetalingsreëling tref wat ten minste nie so 'n groot lading op die kontantvloei gaan hê nie. Maar wat hulle nie moet doen nie is om dit te ignoreer, want die departement is besig om meer inspekteurs aan te stel om te verseker dat besighede aan voorskrifte van die wet voldoen.

Verder kan dit ook die gesondheid van 'n beseerde werker affekteer aangesien baie dokters deesdae bewyse soek dat die rekeninge op datum is.


OFM-nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.