On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Nóg 'n ramptoestand verklaar, wat nou?

───   ELSABÉ RICHARD 06:00 Mon, 20 Feb 2023

Nóg 'n ramptoestand verklaar, wat nou? | News Article
FOTO deur Tobi: https://www.pexels.com/photo/hay-beside-brown-wood-slab-518557/

Suid-Afrika word tans deur twee rampverklarings in die gesig gestaar – een weens die kragkrisis en een weens die vloede ná baie reën.

Agri SA se Andrea Campher sê dié noodtoestande is in minder as ‘n week afgekondig. President Cyril Ramaphosa het op Donderdag 9 Februarie 2023 bekend gemaak dat 'n ramptoestand weens die energiekrisis in die Staatskoerant gepubliseer sal word. Dae later, op 13 Februarie, is 'n ramptoestand afgekondig as gevolg van swaar reën.

Die rampverklarings het ‘n geweldige invloed op die land se staatskas en provinsiale rampbestuursentrums, munisipaliteite, provinsiale departemente sowel as sektorale departemente moet binne hulle bestaande begrotings gaan kyk hoe hulle fondse kan herprioritiseer om die onmiddelike behoeftes aan te spreek, vertel Campher.

LEES OOK: 'Ramaphosa moet moontlikheid van energie-ramptoestand uiteensit'

“Weens die skade van hierdie vloede wat nog steeds onbekend is, is ons tans nie seker hoeveel geld uit die staatskas bewillig gaan word om die krisis aan te spreek en wat presies word beoog met beurtkrag nie…

“Ons glo en vertrou dat in die drie maande, terwyl impak-assesserings onderneem word tydens hierdie verklaring, ons ‘n idee gaan hê van hoeveel fondse dit uit die staatskas gaan jaag."

ALSO READ: North West municipality declares disaster area after floods

Gebiede wat hulp vanaf die regering gaan ontvang om skade aan te spreek wat deur vloede veroorsaak is, is die Oos-Kaap, Mpumalanga, Gauteng, KwaZulu-Natal, Limpopo, Vrystaat en Noordwes.

Talle boere word deur ongekende skade aan hul produkte, eiendom en lewensbestaan in die gesig gestaar.

Campher voeg by dat die verklaring gevolg moet word deur die ontplooiing van hulpbronne om verligting aan boere te bied en kritieke infrastruktuur wat deur die vloede beskadig is, te herbou.

“Die aankondiging, gemaak deur Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, volg op 'n week van swaar reënval met meer reën wat hierdie week verwag word.

“Benewens die beskadiging van private eiendom, het die vloede kritieke infrastruktuur vernietig. In dele van KwaZulu-Natal, waar vloede in 2022 reeds aansienlike skade aangerig het, is die gevolg katastrofies.”

ALSO READ: National state of disaster declared over heavy rains, flooding

Sy sê hulle doen 'n beroep op Dlamini-Zuma om maatreëls in plek te stel om die ontplooiing van noodlenigingsfondse op 'n deursigtige en verantwoordbare wyse te verseker. Campher deel verder dat Agri SA vertrou dat die nasionale rampbestuursentrum (NDMC) en die ouditeur-generaal se kantoor hul rol in hierdie verband sal speel.

“Agri SA sal voortgaan om die situasie te monitor en opdaterings aan lede te verskaf deur ons samewerking met die NDMC.”

Produsente word intussen aangemoedig om impakbeoordelings te voltooi wat deur die onderskeie provinsiale rampbestuursentrums verskaf is om rekening te hou met die skade wat gely is weens voortdurende swaar reënval.

OFM-nuus




@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.